Wat begin het as ’n poging van ’n pasgetroude man wat witvoetjie by sy nuwe skoonpa soek, het uitgedraai in ’n jaarlikse gholftoer vir die Olivier en Moore familie.
Richard Moore het 21 jaar gelede besluit om met ’n potjie gholf die hart van sy nuwe skoonpa, Nicolaas Olivier te verower met hul heel eerste ronde gholf op Humansdorp se gholfbaan.
Hierdie dag het daartoe gelei dat die Olimore-gholftoer (Olivier en Moore) tot stand gekom het.
Nadat Olivier se seun, Wouter, Kaapstad toe getrek het, is daar besluit om hier-die familie reünie-gholftoer voort te sit op die Oudtshoorn Gholfbaan, wat die middelpunt vir almal was wat vanaf PE, Sutherland en Kaapstad moes byme-kaarkom.
Op Donderdag, 4 Julie, was dit die 21ste jaar wat hierdie familie hul jaarlikse toernooi gespeel het, en 15 van hierdie toernooie is op die pragtige gholfbaan in Oudtshoorn gespeel.
Volgens Moore is al die spelers familie, broers, neefs, ooms en seuns.
Die oudste oorlewende broer van Nicolaas Olivier is Elias Olivier (90), wat ’n inwoner van Millenium Park Aftreeoord in Oudtshoorn is, en die jongste speler is 22 jaar oud.
“Oom Elias speel nie meer saam met ons nie, maar dit gee ons ook elke jaar die kans om hom te sien en saam te kuier”, het Moore aan Die Hoorn gesê.
Daar word jaarliks vir die Trofee gespeel vir die top helfte in die punteleer, met ’n heel lam as eerste prys, en die Plaattrofee, waar ’n halwe lam op die spel is. (Deur Lindi Brill)