Die Wes-Kaapse Minister van Sport en Kultuur, Ricardo Mackenzie, het verlede Donderdag besoek aan die Rosevalley en CJ Langenhoven Biblioteek in Oudtshoorn afgelê.
Sy eerste besoek was aan die Rosevalley Biblioteek waar hy saam met die kinders op die mat gesit het en vir hulle uit ’n storieboek voorgelees het.
Ná die storietyd het die minister saam met die kinders aan prettige kunsprojekte deelgeneem ter viering van Mandeladag en ook tyd geneem om met hulle in die rekenaarlokaal te gesels.
Hy het later die dag ook ’n draai by die CJ Langenhoven-biblioteek gemaak, waar die minister ‘n oorsig gekry het van die dienste wat die biblioteek aan die publiek bied.
Die biblioteekpersoneel het aan hom ’n volledige verslag gegee oor die beskikbare hulpbronne en programme, met die klem op die biblioteek se rol in die gemeenskap. (Deur Lindi Brill)