’n Argiteksvoorstelling van die woonbuurtsentrum wat op die terrein van Klein Karoo Beperk op Oudtshoorn gebou gaan word.
Deur Liesel le Roux
’N NUWE woonbuurt-winkelsentrum sal na verwagting sy deure in die tweede helfte van 2020 op Oudtshoorn open. Dié Klein Karoo Woonbuurtsentrum gaan op die grond van die Klein Karoo Beperk in Parkweg, Wesbank gebou word.
Die winkel- en vertoonruimte van die sentrum sal sowat 5 500 vierkante meter beslaan. ’n Verkeersirkel gaan in Parkweg gebou word om veilige toegang tot die sentrum te bied en terselfdertyd verkeersvloei in die straat te kalmeer, terwyl ’n landskapsargitek ingespan sal word om ’n nuwe groen strook langs
Parkweg te vestig wat die sentrum en Agri Klein Karoo, die huidige handelstak, visueel sal integreer.
Daar word ook voorsiening gemaak vir voldoende parkeerplek.
Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Beperk, sê daar word tans gesprek gevoer met belangstellende huurders oor die beskikbare ruimte.
“Hoewel die oorhoofse beplanning afgehandel is, kan ’n perseel in hierdie stadium steeds doelgemaak ingerig word vir ’n huurder se spesifieke behoeftes,” sê hy.
Volgens Schoeman is dit vir Klein Karoo belangrik om ’n supermark in die sentrum te hê waar ’n inwoner sy of haar hele maand se inkopies sal kan doen, asook om die regte verskeidenheid winkels daar in te bring.
“Ons wil graag die ruimte wat ons beskikbaar het, reg aanwend – tot voordeel van Klein Karoo en die huurder en die publiek,” sê hy.
Volgens Schoeman behoort bouwerk binne die volgende ses maande af te skop.
• Planne met die vestiging van ’n winkelsentrum in Bridgton, Oudtshoorn gaan intussen ook voort, hoewel geen bouwerk nog op die terrein in Springbokweg plaasgevind het nie.
Die Bridgton Mall is in Augustus verlede jaar tydens ’n sooispit-byeenkoms bekendgestel met ’n moontlike openingsdatum Paasfees vanjaar.
Volgens Boet Smuts, ontwikkelaar van Stellenbosch, was vordering met die sentrum egter nie so vinnig soos aanvanklik gehoop is nie, maar is die projek beslis nog aan die gang.