Magdalene (Maggie) Titus en haar regsverteenwoordiger, Mustaque Holland, tydens ’n besoek aan die moordhuis. Foto: Angelique Erasmus
Deur Garnett Wicomb
BLOED op twee messe en op ’n hamer wat langs die Mosselbaai-pad opgetel is, is dié van die vermoorde soldaat, stafsers Preston Titus (49), wat die aand van 1 Desember 2017 wreed in sy slaapkamer in die
Weermagbasis op Oudtshoorn vermoor is. Daar was volgens die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, 27 steekwonde aan sy liggaam.
Dit was gister deel van getuienis wat in die Rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn aangehoor is in die opspraakwekkende moordverhoor van Titus se vrou, Magdaleen (Maggie) Titus, en haar medebeskuldigdes, Natashia Stuurman – ’n vriendin van destyds, Justice Mooi en Masimthebe “MJ” January.
Hulle staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade en regsverydeling.
Al vier ontken skuld en is Maandagoggend deur die staat gewaarsku dat hulle tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis kan word indien hulle skuldig bevind word.
’n Vyfde verdagte, Sixabiso Klip, wat die motorbestuurder was van Magdaleen, is verlede jaar tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en gaan Maandag (4 Maart) as staatsgetuie teen die vier beskuldigdes getuig. ’n Sesde verdagte wat volgens Klip deur Magdaleen, glo die baasbrein agter die moord, R30000 aangebied is om haar man te vermoor, is steeds op vrye voet.