
Alicia Berry. Foto Facebook
’n Jong vrou van Oudtshoorn het met twee gekraakte ribbes, ’n knop op die kop en ’n verstuite gewrig in die Mediclinic Klein Karoo beland nadat ’n tiener, klaarblyklik ’n straatkind, haar Donderdag aangeval het.
Alicia Berry (22) is in Olivierstraat, die straatjie wat vanuit Baron van Reedestraat na De Jagers op Checkers se parkeerarea loop, aangeval.
“Ek kry nagmerries as ek in die aand slaap, en sal nooit weet alleen in die dorp rondloop nie,” sê sy.
Sy is Saterdag uit die hospitaal ontslaan.
Alicia het aan Die Hoorn vertel dat sy op pad was om ’n kliënt van haar se selfoon te gaan haal toe sy aangeval is. Teen De Jagers se muur het sy vier kinders sien staan en besluit om te wag totdat hulle weg is. Hulle het in die rigting van Checkers gestap en eers toe hulle om die hoek van die winkel verdwyn, het sy verder gestap.
Alicia vertel haar selfoon en werksleutels was in haar broeksakke. Die volgende oomblik het ’n seun van sowat 17 jaar om die hoek gehardloop gekom en haar in die ribbes geslaan. “Hy het my ook met sy kop geslaan en wou my om die nek gryp. Toe ek opkyk het hy ’n skerp voorwerp in sy hand gehad. Hy wou my daarmee steek.”
Sy het egter besluit om terug te veg en hom met die vuis geslaan dat hy val. Sy het pad toe gehardloop terwyl die ander drie kinders volgens haar haar aanvaller kom help en weggehardloop het.
(Berig deur Angelique Erasmus)