
‘n Bejaarde Italianer wat saam met sy vrou op hul eerste besoek aan Suid-Afrika is, is gisteraand in Baron van Reedestraat deur ‘n man wat voorgegee het dat hy ‘n karwag is, van sy beursie beroof.
Die man, Guiseppe Cinotti (77), het boonop lelik seergekry toe hy die dief probeer agternasit en op die sypaadjie geval het.
Volgens Ilze Jacobs, veiligheids- en sekuriteitsbeampte van die Tuinroete Distrik wat die egpaar na die voorval bygestaan het, het ‘n man met ‘n onderbaadjie soos karwagte dra, die bejaarde egpaar genader nadat hulle die aand by Nostalgie Restaurant geëet het. Die man het aan hulle gesê hy het hul motor opgepas en gevra vir ‘n fooitjie. Toe Cinotti egter sy beursie – met ook sy kredietkaart in dit – uithaal, het die sogenaamde karwag dit gegryp en laat spaander.
Jacobs, wat toeriste aan die Klein Karoo en Eden Distrik bystaan in gevalle van trauma, het Cinotti gehelp om mediese behandeling by die Mediclinic Klein Karoo te ontvang. Sy het ook gereël dat die kredietkaart gestop word en met hul mediese versekering in Italië onderhandel. Volgens haar is die egpaar kwaai getraumatiseer.
Die voorval is by die Oudtshoorn Polisie aangemeld.
(Berig deur Liesel le Roux)