Daar was baie verhoudings, getuig Klip

Sixabiso Klip vanoggend in die hofsaal. Foto: Angelique Erasmus

“Daar was baie,” het Sixabiso Klip vanoggend (Maandag, 4 Maart) in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn gesê toe hy gevra is oor buite-egtelike verhoudings waarby Magdaleen (Maggie) Titus betrokke was terwyl sy met Preston Titus getroud was. Volgens hom was een van die verhoudings met Ma­simthembe (MJ) January.

Magdaleen, MJ, Justice Mooi en Natashia Stuurman staan tereg op klagtes van moord en regsverydeling na die moord op Preston Titus op 1 Desember 2017.

Die hofsaal was vandag so gepak vir die vierde dag van die moordverhoor dat mense selfs op die vloer gesit het. Ekstra bankies is ook aan weerskante van die hofsaal geplaas om meer mense te akkommodeer. Almal was daar om te luister na die getuienis van Klip wat ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het en reeds 15 jaar gevangenisstraf uitdien vir sy aandeel in die moord op Titus.

Klip wat met voetboeie die hof ingebring is, was geklee in ’n netjiese blou pak, maar het volgens diegene wat hom ken, baie gewig verloor sedert hy in die gevangenis is. Hy is tydens die hofverrigtinge deur sy ma en ouma ondersteun.

Die hof het vanoggend gehoor dat Klip se ouma oorkant Stuurman, een van die beskuldigdes, woon. Die beweerde moordenaars, Mooi en ’n man wat nie deur Klip geïdentifiseer is nie, het voor die moord in Stuurman se huis tuisgegaan. Haar maroenkleurige Ford Fiesta is ook gebruik om die vermeende moordenaars mee rond te ry en Titus se huis uit te wys, asook om Mooi dorp toe te neem waar hy na bewering slaappille en pepersproei by die apteek gekoop het, terwyl Klip in ’n supermark se parkeerterrein gewag het.

Klip het getuig dat daar reeds planne was om Preston die Donderdagaand te vermoor deur vir hom “brake fluid” in te gee sodat hy sal slaap.

Die plan het nie voortgegaan nie nadat twee van Preston se vriende by die huis kom oornag het. Hy het gesê Magdaleen het ’n boodskap gestuur en laat weet dat die mans slaap. Hulle drie (Klip, Mooi en die ongeïdentifiseerde man) het na die huis gery, maar die ongeïdentifiseerde man het aangedui dat hy nie gemaklik was met die twee ander mans in die huis nie. Klip het ’n boodskap aan Magdaleen gestuur om te sê dat die mans is nog wakker en hulle het die planne laat vaar.

Die moord sou toe die Vrydagmiddag voortgaan, met Magdaleen wat aan Klip gesê het sy sal sorg dat die kinders nie by die huis is nie, en dat hy vir Mooi en die onbekende man na die huis moet neem. Sy het toe later ’n boodskap gestuur om te laat weet dat sy en die kinders nie daar is nie.

Mooi het na bewering die pepersproei in sy sak gehad en reggemaak om Preston daarmee te spuit, toe Klip vir hulle in Xhosa sê hulle moet die plan laat vaar omdat die bure buite die huis was. Hierdie was egter ’n leuen omdat Klip nie daar wou wees wanneer die moord plaasvind nie.

Mooi het in daardie stadium vir Klip gevra om ’n hamer vir hulle te kry. Hy het hulle by Stuurman se huis afgelaai en ’n hamer gaan soek by een van sy vriende, en omdat hy die vriend vertrou het, hom van die moordplan vertel. Hy het egter daarna ’n hamer by sy pa se huis gaan haal en dit na Stuurman se huis geneem, waarna Magdaleen daar aangekom het.

Mooi en die onbekende man was besig om slaappille fyn te maak, en het Magdaleen gevra om dit in Preston se kos te gooi. Sy het egter gesê Preston maak die dag kos, maar dat sy wel ’n plan sal maak.
Sy het aan Mooi en die onbekende man gesê sy sal ’n swart sak in die braaivertrek los met R3 500 kontant, ’n selfoon en ’n tablet sodat dit na ’n roof sal lyk.

Klip het hierna vir Magdaleen ’n boodskap gestuur dat hy met haar wil praat, en is na sy woonstel toe. Toe sy later by sy woonstel opdaag, het hy aan haar gesê hy kan nie angaan met die plan nie. Sy het hom egter oortuig en R30 000 aangebied sowel as die vooruitsigte van ’n beter werk. Sy het gesê hy is die enigste persoon wat sy kan vertrou.

Volgens Klip het hy Mooi en die ongeïdentifiseerde man na Titus se huis geneem en het hulle na 20 minute teruggekeer na die motor toe. Die onbekende man wou so gou moontlik wegkom, en vir Klip gesê: “Go, go go go, go!”

Klip sê hy kon pepersproei in die motor ruik.

Hulle het daarna via Mosselbaai na George gery waar Magdaleen verblyf vir die twee moordenaars by die Gateway Lodge bespreek het. Volgens Klip het hy Mosselbaai omgery omdat hy bang was vir ’n padblokkade by die ou Bokomo-gebou.

Hy het langs die pad gestop waar Mooi en die ongeïdentifiseerde man voorwerpe in die bosse gaan versteek het, en by ’n vulstasie op Mosselbaai brandstof in die kar gegooi.

Klip het ook ook gebeure die Sondag na die moord getuig. Volgens hom het Mooi gesê hy het die pepersproeihouer in die huis verloor. Later die dag het Klip saam met MJ en Stuurman in ’n kamer gesit en oor die moord gepraat en het Magdaleen ’n deurskynende plastieksakkie met bebloede items in uitgehaal. Die verlore pepersproei was ook daarin, en MJ het dit geneem om daarvan ontslae te raak
MJ het ook al die boodskappe op Klip se foon probeer uitwis.

Klip is drie dae later, die Woensdag, deur speurders vir ondervraging geneem, en het die Donderdag met behulp van ’n tolk sy bekentenis afgelê.

Die saak gaan môre (Dinsdag, 5 Maatt) voort met ’n terplaatse ondersoek by Stuurman se huis.
(Berig deur Angelique Erasmus)