



DERDE LAAN in Bridgton, Oudtshoorn is vanoggend (5 Maart) ’n ruk lank deur polisievoertuie afgesper met ’n ter plaatse ondersoek by die huis van van Natashia Stuurman, een van die vier beskluldigdes in die Preston Titus-moordverhoor wat tans in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn plaasvind het.
Die ondersoek is deur al vier beskuldigdes: Stuurman, Magdaleen (Maggie) Titus, Justice Mooi (met handboeie aan), Masimthembe (MJ) January en hul regspanne bygewoon, asook deur Sixabiso Klip (met voetboeie aan) wat reeds tot 15 jaar gevangenisstraf vir die moord gevonnis is, asook regter Nolwazi Penelope Boqwana, die staatsaanklaer adv Christhénus van der Vijver, en lede van die Polisie en korrektiewe dienste-personeel.
By Klip se ouma se huis skuins oorkant dié van Stuurman, kon gehoor word hoe sy ouma hardop huil terwyl haar kleinseun in voetboeie die erf binnegelei word.
Na afloop van die terplaatse besoek, wat sowat ‘n uur geduur het, is Klip deur sy ouma omhels en gesoen, voordat hy weer agter in die voertuig van korrektiewe dienste geklim het.
Kruisondervraging van Klip het om 14:00 afgeskop. Adv Stoffel Prinsloo wat optree vir Mooi het gesê Mooi stem nie saam dat nog ‘n man, klaarblyklik bekend as Vumsumsi, deel van die moordspan was nie. Die man het ook nie einde November 2017 saam met Mooi per taxi na Oudtshoorn gereis en uitgeklim nie.
Prinsloo gaan môre ‘n verklaring van Mooi aan die hof voorhou, omdat daar teenstrydighede met dié verklaring van Klip is. Die saak sal môre om 10:00 verdaag.
Klip en Mooi bly in aanhouding, terwyl Titus, Stuurman en MJ se borgvoorwaardes tot more verleng is. (Berig deur Angelique Erasmus)