Preston Titus se bejaarde moeder, Murial Titus (84, middel), het vandeesweek al die hofsittings bygewoon. Sy was ook Maandag buite die huis waar haar seun vermoor is toe die huis deur die regter, die staatsaanklaer, die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes en die beskuldigdes besoek is. By haar is haar dogter, Lucinda Titus (links) en kleindogter, Gloria Solomons. Foto: Angelique Erasmus

Preston Titus. Foto Facebook

’n Voorstelling van die moordhuis. Preston Titus se liggaam is in die kamer links bo gevind waar hy alleen geslaap het. Sy vrou, Magdaleen Titus, en ’n dogter het in die hoofslaapkamer geslaap, terwyl Kamer 2 ten tye van die moord leeg was. Die sydeur van die huis waardeur toegang tot die huis waarskynlik verkry is, word onderaan die voorstelling aangedui.
Deur Garnett Wicomb
EKSTRA banke moes vandeesweek in die hofsaal op Oudtshoorn gedra word waar die ANC-raadslid van Oudtshoorn, Magdaleen Titus, en drie mede-beskuldigdes tereg staan op aanklagte van die moord op Preston Titus en regsverydeling.
Daar is reeds groot belangstelling in die voortsetting van die verhoor Maandag met die getuienis van Sixabiso Klip wat na ’n pleitooreenkoms met die staat reeds tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is weens die moord op Preston Titus.
Vandag (Donderdag) en Vrydag sal gebruik word vir konsultasie met selfoonkundiges oor die beskuldigdes se selfoonrekords.
Die ANC het intussen Dinsdag in ’n verklaring gesê dat hulle bewus is daarvan dat Magdaleen onskuldig is totdat skuld bewys word, maar dat hulle sou verkies het dat sy uit die ANC bedank.
Die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC het intussen besluit dat sy aan geen ANC-aktiwiteite mag deelneem totdat die hofsaak afgehandel is nie.
Patoloog en ander getuies verskyn
In ag genome al die wonde aan die liggaam van die oorledene is sy seker dat twee wapens in die aanval gebruik is, het dr Mariette Hurst, wat die lykskouing op Titus gedoen het, Dinsdag geantwoord op ’n vraag van die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver. Sy was die eerste van 40 getuies in dié opspraakwek-kende hofsaak wat Maandag begin het.
Van der Vijver wou van haar weet of die oorledene gesteek is met die mes en gekap is met die hamer wat as bewysstukke voor die hof dien.
Volgens haar was die oorsaak van dood die erge verlies aan bloed as gevolg van die veelvuldige steek- en kapwonde met ’n skerp en ’n stomp voorwerp. Die aanwesiges in die hofsaal het verslae gehoor watter marteling die oorledene deurgemaak het.
Sy gesig was vol kaphoue terwyl hy in die nek, arms, rug en been gesteek is. Van die steekwonde is met geweldige krag toegedien soos die een in die rug wat die aorta binnegedring het.
Hurst het getuig sy het die oorledene op Saterdag 2 Desember 2017 in sy slaapkamer gevind waar hy in
’n plas bloed op die vloer gelê het. Die aanval op hom moes tussen vier en tien ure voor dit plaasgevind het. Die kamermuur was vol bloedspatsels wat op ’n moontlike worsteling dui. Steekwonde aan die oorledene se gewrig en arms is ’n aanduiding dat hy die aanval probeer afweer het, het dr Hurst getuig.
’n Weermagkollega en huisvriend van die Titusse, James Dido, wat twee huise laer af in Mimosalaan woon, het getuig dat sy seun hom omstreeks elfuur die aand van 1 Desember kom roep en gesê het dat hy moet gaan kyk – Preston Titus “lê in ’n plas bloed”.
Hy het getuig hy het teruggesteier toe hy die huis wou ingaan as gevolg van traanrook wat uit die huis geborrel het.
Volgens hom kon hy nie sien of daar enige inbraak was nie. ’n Sydeur wat min gebruik word, het effens oopgestaan. Hy het ook opgemerk dat daar ’n mat in die gang gelê het wat nooit vantevore daar was nie.
Dido het in kruisverhoor op ’n vraag van adv Stoffel Prinsloo (vir Justice Mooi) getuig dat die sydeur nie dikwels gebruik is nie. Hy self het altyd by die agterdeur ingegaan wanneer hy sy vriend gaan besoek het omdat die voordeur ook selde gebruik is. Volgens hom was dit ook vreemd dat die huis se buiteligte af was omdat die oorledene dit altyd regdeur die nag laat brand het.
Volgens die eerste polisiebeampte wat die aand van 1 Desember by die moordhuis aangekom het, ao Quinton Mei, was daar egter nie ’n mat in die gang soos Dido getuig het nie.
’n Klein venster in die kamer was oop, maar verder kon hy niks buitengewoon waarneem nie.
Daar was geen bloed in die kombuis of gang nie en die oorledene se vrou, Magdaleen Titus, was in so ’n toestand dat hy glad nie met haar kon praat nie. Sy het kort daarna in die kombuis flou geval.
Hy het ook getuig dat daar met sy aankoms ’n sterk reuk van pepersproei in die huis gehang het.
Gister het ’n vriend van die Titus-familie, Paulton Jacobs, getuig dat hy die oorledene se oudste dogter, Penélope, die betrokke aand ’n geleentheid huis toe gegee het van waar hulle ’n partytjie bygewoon het.
Sy het by die agterdeur en by haar pa se kamervenster geklop, maar geen antwoord gekry nie.
“Sy het toe haar pa gebel omdat hy altyd die een was wat die deur vir haar oopmaak, maar ook sonder sukses.
’n Taxibestuurder, Elvin Jansen, het getuig dat iemand hom op 29 November 2017 gebel het om ’n persoon vanaf Port Elizabeth saam te bring na Oudtshoorn. By die opklimplek in Port Elizabeth het twee mans, die een Justice Mooi – een van die beskuldigdes, aangestap gekom. Net Mooi het ’n klein rugsakkie by hom gehad.
Naby De Rust het Mooi ’n oproep gekry en die selfoon vir hom gegee.
“ ’n Vrouestem het my gevra om Mooi by die Oudtshoorn Begraafplaas af te laai.”
Albei mans het daar in ’n donkerkleurige Hyundai-voertuig geklim wat vir hulle gewag het.”
Hy kon nie die bestuurder daarvan sien nie, het Jansen getuig.
Volgens Prinsloo, Mooi se regsverteenwoordiger, sal hy getuig dat hy nie die persoon ken wat saam met hom in Port Elizabeth in die taxi geklim het nie.
Jansen het dit egter as onwaarskynlik beskryf omdat hulle saam na die taxi gestap het, saam uitgeklim het en in die taxi gesels het “soos mense wat mekaar al jare ken”.
Jansen se meeryer, Dawid Oliphant, het gistermiddag getuig dat dit die oorledene se vrou was wat die twee mans by die begraafplaas op Oudtshoorn met die Hyundai-voertuig kom haal het. Hy het haar nie toe geken nie, maar later herken toe hy ná die dood van haar man ’n foto van haar in ’n koerant gesien het.
Die Titus-egpaar se huishulp, Dinah Gelant, het getuig dat die mat in die gang altyd daar was en dat sy die sydeur wat die aand van die moord oopgestaan het, die betrokke dag self gesluit het.
Sy het ook getuig dat die deur slegs van binne oopgemaak kan word.
Die saak dien voor regter Nolwazi Boqwana. Magdaleen Titus is op R30000 borgtog, Stuurman op R15000 en January op R10000. Mooi is in aanhouding .

Bo: Regter Nolwazi Boqwana en adv Christhénus van der Vijver tydens die besoek aan die moordhuis. Foto: Angelique Erasmus

Die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux. Foto: Angelique Erasmus

Bo is Magdaleen Titus se drie mede-beskuldigdes onder: Nastashia Stuurman, Masimthebe “MJ” January en Justice Mooi, Maandag by die besoek aan die moordhuis. Mooi, die enigste beskuldigde wat nog in aanhou-ding is, het handboeie aangehad ty- dens die besoek. Foto’s: Angelique Erasmus

