Die nuwe inkopiesentrum, Klein Karoo Markt, op die hoek van Langehovenweg en Rademeyrstraat op Oudtshoorn, vorder mooi, met bouwerk wat reeds eersdaags begin het.
Die ontwikkeling vind plaas deur Dorpstraat Ontwikkelaars met verskeie inkopiesentrums regoor Suid-Afrika.
Tans word daar gewerskaf om die grond te lig en die perseel gelyk te maak, en elke laag te kompakteer voordat die volgende laag weer aangebring word.
Die Hoorn het by Armand van der Merwe, terreinbestuurder van Ruwacon gaan gesels oor die vordering.
Tans werk daar sowat 30 werkers op die perseel, waarvan die meeste plaaslike inwoners is.
“Ons behoort in totaal sowat 1 200 tydelike werksgeleenthede deur die loop van die projek te skep, soos wat die gebou vorder, en sal na raming sowat 90% van die plaaslike inwoners aanstel in verskeie poste,” het hy aan Die Hoorn gesê,
Dit is belangrik om te onthou dat daar nie op een slag sowat 1 200 tydelike werkers gelyk op die perseel gaan wees nie, maar dat elke fase ’n aantal tydelik werkers gaan verg en ander klaarmaak soos die fases voltooi word.
Die voltooide inkopiesentrum sal sowat 38 winkels bevat, oor ’n area van 14 000 m² strek en teen 26 April 2025 voltooi wees.
Die projek kos R340 miljoen om te voltooi, en skep nie net nuwe tydelike werksgeleenthede vir die bouers nie, maar ook vir inwoners wanneer daar verskeie winkels en besighede volgende jaar hul deure oopmaak.
Persone wat vir tydelike poste aansoek wil doen, kan hul CV’s gaan ingee by die twee skakelbeamptes by die tydelike kantoor op die perseel.