Weer toetsing vir alle rybewyse

Lara le Roux (18) was die eerste leerlingbestuurder wat Maandag op Oudtshoorn se nuwe toetsbaan getoets is. Sy het die baan op uitstekende wyse ingewy deur haar rybewystoets te slaag. Foto verskaf
DIE Oudtshoorn Verkeersafdeling het Maandag sy nuwe toetsbaan – waarop toetse vir alle soorte rybewyse afgelê kan word – amptelik geopen.
“Die toetsbaan voldoen aan die vereistes vir Graad A-status en is weer oop vir alle voertuie en motorfietse,” het Patrick Jordaan, hoof van die verkeersafdeling, by die openingseremonie gesê.
Hy het verskoning gevra vir die tydperk waartydens nie toetse gedoen kon word nie.
“Wees verseker dat ons die gemeenskap wil dien tot die beste van ons vermoë.”
Die verkeersafdeling was verlede jaar op die punt om gedegradeer te word na Graad F omdat die toetsbaan nie aan die van ’n Graad A-rybewys-toetsbaan voldoen het nie.
Na die opknapping van die toetsbaan het die provinsiale Departement van Vervoer bevestig dat die verkeersafdeling sy vorige Graad A-status kan hervat.
Volgens Jordaan is daar hard gewerk om die toetsbaan weer oop te stel vir die toets vir alle rybewyse.
Die Oudtshoorn-raad het sowat R652 000 van die kapitaalbegroting gebruik om die projek te befonds.
“Wat eens ’n doring in die oog was, is nou ’n baken van trots vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn, het die burgemeester,
Colan Sylvester, oor die nuwe toetsbaan gesê.
Charlton Majiedt van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer, het die munisipaliteit en amptenare bedank vir hul werk om die rybewys-afdeling op die vereiste standaard te kry.
“Ons is trots op almal wat so hard saamgewerk het.”