Nuwe muur vir Oudtshoorn-gevangenis

DIE diefstal van heinings en heiningpale rondom die Oudtshoorn korrektiewe dienssentrum aan die bokant van Victoriastraat het inwoners van die omgewing baie bewus en bekommerd oor hul veiligheid gemaak die afgelope maande, maar volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) is daar reeds planne beraam om die kwessie aan te spreek deur die bou van ’n muur en die oprig van sekuriteitskameras.

Nuus oor die vermiste dele heinings, wat meerendeels tussen die dienssentrum se groentetuin en ’n oop stuk veld langsaan die dienssentrum opgerig is, het selfs nasionaal opspraak gemaak, met Lester Kiewit van CapeTalk wat met DKD streekskommissaris, Delekile Klaas, daaroor gepraat het.

In Kiewit se onderhoud sê Klaas dat die kriminele wat die heinings wegdra van informele nedersettings rondom die dienssentrum afkomstig is. “Hulle bestudeer die sentrum se bedrywighede, neem voordeel uit personeel-tekorte, en vandaliseer die sentrum op kwesbare tye soos wanneer daar van skof verander word,” het Klaas gesê.

Dit is daarom dat die DKD beplan om ’n muur in plek van die heining te bou, kameras te installeer, en nou saam met die plaaslike polisie sal werk om die beweerde kriminele vas te trek.

Om inwoners van die omgewing gerus te stel, het Klaas bygevoeg dat die waarskynlikheid van gevangenisse om uit die dienssentrum te ontsnap baie laag is omdat verskeie veiligheidsmaatreëls in plek gestel is. (Deur Stefan Skapie Goosen)