Jeugforum se Erfenisfees groot vanjaar

VANJAAR se Erfenisfees van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) wat ná ’n afwesigheid van twee jaar weens die Covid-19-pandemie die naweek van 23 tot 25 September op die Bridgton Sportgronde aangebied sal word, gaan volgens die projekbestuurder van die forum, Phillip Seroux, die grootste in die forum se 12-jarige bestaan wees.

Die hoogtepunte sal die optredes van Dawnay Poggenpoel en Jonathan Robain en sy Koortjiesorkes wees. Die bekende Dawnay, wat op Oudtshoorn grootgeword het, is ’n sanger, vervaardiger en liedjieskrywer. “Oudtshoorniete kan uitsien na ’n fees der feeste,” sê Seroux.

Die forum is op 31 Julie 2010 onder ’n boom by die Christen Herlewingskerk gestig om die verskillende jeugtakke in die Groter Oudtshoon te verenig en probleme soos dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, tienermisdaad, bende-aktiwiteite, die probleem rondom straatkinders en HIV/Vigs deur programme aan te spreek.

Die forum is volgens die uitvoerende hoof, Johnny Baartman, baie trots op wat hulle die afgelope 12 jaar bereik het.

“Die forum is geregisteer as ’n nie-winsgewende organisasie. Dit is ses jaar agtereenvolgens aangewys as die beste sport-en-rekreasie-organisasie in die Eden Distrik en drie keer as die beste in die Wes-Kaap.” Die forum is in 2017 ook benoem vir die beste in Suid-Afrika.

Vanjaar se Erfenisfees begin Vrydag, 23 September, met ’n dag se sportaktiwiteite soos netbal, sokker, dominoes, skaak, sewesrugby en inheemse speletjies.

Die volgende oggend word ’n optog teen dwelms gehou vanaf die Smartie Town-sirkel na die Bridgton Sportgronde waar die burgemeester. Chris MacPherson, as een van die sprekers sal optree.

Die dag word daarna voortgesit met sport- en kultuuraktiwiteite tot 13:30. Vanaf 14:00 speel die Oudtshoorn CKI en Mosselbaai CKI se A- en B-rugby- en netbalspanne teen mekaar, met die bekeroorhandiging om 17:00.

Dawnay se Die Homecoming Concert begin om 19:00 met verskeie plaaslike kunstenaars wat ook sal optree,

Die fees word die Sondag voortgesit met ’n opelug-dankseggingsdiens om 10:00 en om 16:00 afgesluit met Jonathan Rubain en die Koortjiesorkes.

Volgens Seroux sal daar vir die duur van die fees kosstalletjies wees. Belangstellendes kan hom vir meer besonderhede skakel by 079 987 9486 of Johnny Baartman by 062 106 1904. (Deur Garnett Wicomb)