Nuwe geriewe vir Eljada-Kairos

Bo: Wessel Vermeulen (SAMA), Clifford van Wyk (tak- raadslid SAMA), Yolanda Swart (senior takbestuurder SAMA) en Hennie Baardman (Eljada-Kairos skoolhoof) saam met kinders van die skool. Foto verskaf Onder: Een van die storte wat opgegradeer is om die badkamer veral vir kinders in rolstoele meer toeganklik en gemaklik te maak. Foto verskaf

Die opgradering van die badkamerfasiliteite by Eljada-Kairos skool, is verlede week voltooi, en kinders, veral dié in rolstoele kan gemaklik toegang tot hierdie fasiliteite bekom.

Die opgradering is moontlik gemaak nadat SAMA (South African Medical Association), waarvan bekende Oudtshoorn-dokter, Wessel Vermeulen, voorsitter van die Outeniqua Tak, in November 2023 namens SAMA R50 000 aan die skool geskenk het vir die doel.

Die dag is gevier en die kinders is elkeen bederf met ’n stroopsoet kolwyntjie en ’n vrugtesap. Die opgewondenheid oor hierdie pragtige nuwe geriewe is duidelik sigbaar op die kinders se gesiggies.

Eljada-Kairos is die enigste spesiale skool van sy soort wat leerders vir verstandelik, fisies, Down sindroom en met outisme inneem. Die skool bedien areas so ver soos Laingsburg, Leeu-Gamka, Prins Albert, die Langkloof en selfs Beaufort-Wes.

Alhoewel die skool befondsing kry vanaf die staat, vul hul die tekortkoming aan met verskeie fondsinsamelings, en word die skool gereeld ondersteun deur verskeie besighede en inwoners van die Klein Karoo. (Deur Angelique Erasmus)