

Kinders van Bongolethu en Rosevalley het Saterdag met groot opwinding aan die eerste Kaskarkompetisie deelgeneem.
Deelnemers moes hul eie kaskarre bou, en dan die bult in Petunialaan in Rosevalley aandurf. Van die kaskarre het selfs briekligte van bottelproppies gehad, en een se nommerplaat het “Sorrie daar” gelees.
Die kaskarre was uit verskeie soorte materiaal gebou, een se sitvlak was ’n ou tuinstoel, ’n ander een het homself in ’n ou melkkrat met wiele ingevou.
Daar was een of twee kaskarre wat laaste verstellings moes kry net voor die wedren plaasvind nadat hul wiele losgekom het.
Met die afsit van die ren, en toejuig van toeskouers, het die stoters gehol dat die stof staan om die bestuurder soveel moontlik woema te gee, waarna die afdraande en gravitasie die res gedoen het.
Die drie wenners in die seuns en meisie kategorieë het elkeen ’n geskenkbewys van verskeie besighede gewen.
Hierdie is slegs die eerste van vele sulke oulike inisiatiewe wat deur lede van die Bongolethu Polisiestasie op die been gebring is om kinders in die gemeenskap te betrek by lekker en positiewe aktiwiteite.
“Vir die eerste keer wat so ’n geleentheid aangebied is, het dit goed afgeloop, maar daar is beslis ruimte vir verbeteringe. Die doel is om kinders en ouers betrokke te kry en die drank- en dwelmmisbruik te bekamp deur om hul met opbouende aktiwiteite besig te hou,” het kapt.
Riaan Groenewald aan Die Hoorn gesê. Om betrokke te raak hierby kontak gerus vir sers. Mabel Lewendal by 082 522 3207. (Deur Angelique Erasmus)