Nuwe en opwindende veranderinge sigbaarby Huis Triomf

Die Brenda’s (Links Brenda Chokwe en regs Brenda Maqanda), saam met Chrystal Muller, bestuurder van die huis (middel), spog met die nuwe kombuis wat pragtig oorgedoen is. Onder: Opgraderingswerk vorder mooi die afgelope 18-maande. Die dak word netjies oorgeverf en klipgruis is deur een van Oudtshoorn se besighede geborg. Foto's: Angelique Erasmus

HUIS Triomf op Oudtshoorn is nie net besig om sy nuwe baadjie aan te trek nie, maar slaan daadwerklik ’n splinternuwe blaadjie om, met die veranderinge binnekort van dié huis se naam. Die nuwe naam sal “El Roi” wees wat in Hebreërs beteken ‘Die God wat my sien’.

“Dit is ook die boodskap wat ons aan elke kind wil oordra wat by die huis kom woon, dat God sien jou, jy is spesiaal en Sy kind,” het pastoor Roelof Kwant, van Barn Fellowship kerk in Johannesburg aan Die Hoorn gesê.

Kwant en sy kerk het sowat 18 maande gelede by Huis Triomf betrokke geraak, nadat hul gehoor het dat die huis moontlik sy deure na Covid-19 permanent sou sluit. Hulle is tans sowat R50 000 kort na’n maand by die huis, maar sover betaal Kwant se kerk die verskil in.

Opgraderings wat reeds aan die huis gemaak is, is onder andere die hele gebou wat geteel is, nuwe badkamers is aangebou, die gebou is binne oorgeverf, en die eetsaal en kombuis is oorgedoen.

Die twee Brenda’s soos hulle bekend is, en moederhenne vir die seuns is veral in hulle skik met die nuwe kombuis. Daar was juis ’n heerlike baksel vetkoeke aan die rys met Die Hoorn se besoek.

Vir Brenda Chokwe wat reeds 16-jaar daar werk is dit die Here se genade wat hul hulpkreet gehoor het en vir Kwant en sy span op hulle pad gestuur het. Brenda Maqanda wat 6-jaar by die huis werk beaam die sentiment. Die behoefte is so groot, daar is net geen manier wat hulle die huis kon sluit nie. “Hierdie kinders is soos ons eie kinders, ons sien hulle grootword voor ons oë,” vertel sy.

Chrystal Muller wat al vir 9 jaar die bestuurder by Huis Triomf is, was bekommerd oor waarheen die kinders sou gaan as die huis sluit.

“Hierdie is die enigste heenkome en veilige hawe in die Klein Karoo wat ons kinders het, waarheen sou hulle geplaas geword het en wat word van ander kinders wat in die toekoms dalk hulp nodig het,” sê sy.

Muller is baie in haar skik met al die nuwe veranderinge en dit gee haar en die 11 ander permanente werkers sommer nuwe moed.

“Ons wil graag vir die kinders ook ’n paar lekker dinge leer, soos wedvlugduiwe of hoe om in ’n groentetuin te vroetel,”

Enige skenkings is welkom, items soos tafeltennis of speletjies waarmee die kinders kan speel in die middae kan by die huis afgelaai word.

“Ons wil ook graag hê dat Oudtshoorn moet betrokke raak, al is dit om jou kennis met die kinders te kom deel. Ons het reeds ’n hoenderhok, maar hier is so baie talentvolle mense in ons dorp, kom leer julle kinders want hierdie is Oudtshoorn se kinders,” sluit sy af. Tans huisves die huis 15 kinders, maar sodra al die opgraderings voltooi is sal die huis 60 kinders kan akkommodeer.

Die huis maak reeds reg vir die nuwe kinders met die 40 nuwe beddens en matrasse wat aangeskaf is, en ’n rekenaarlokaal waar kinders inligting vir hulle huiswerk kan opsoek. Enige persone wat betrokke wil raak of vir skenkings, kontak gerus vir Muller by Huis Triomf op 060 699 5316 of 082 307 2678. (Deur Angelique Erasmus)