
DIE Kango Grotte, buite Oudtshoorn is die week genomineer as een van die Top 5 toeriste-attraksies in die Wes-Kaap, as deel van die jaarlikse KFM “Best of the Cape Awards.”
Ander aanspraakmakers op die titel is die Muizenberg Beach Huts, Tafelberg kabelspoor, Two Oceans akwarium en die V & A Waterfront in Kaapstad.
Die publiek kon van gistermiddag af begin stem vir hul gunstelinge, in die 30 verskillende kategorieë.
Die laaste dag om te stem is 2 Augustus om middernag en die wenners sal op 15 Augustus op KFM aangekondig word.
By die Kango Grotte kan besoekers kruip deur roetes, hul vergaap aan die Orrelpype, streel oor die klam spelonkmure en hul innerlike grotman groet. Dís waarskynlik een van die lekkerste en mooiste uitstappies buite Oudtshoorn en word elke jaar deur duisende vanaf die buiteland en van Suid-Afrika besoek.
Die grotte self is meer as 20 miljoen jaar oud en is binne die Swartberg geleë met ’n reeks reusagtige en klein grotkamers.
Die grotte word ook gereeld beskryf as een van die natuurlike wonders van die wêreld, en is een van die grootste grotte wat besoek mag word in Afrika. Dit is ook Suid-Afrika se oudste toeristebesienswaardigheid, en is reeds in die 1800’s deur mense besoek.
Omdat mense van die formasies afgebreek het en hul name teen die binnemure begin skryf het, het die goewerneur van die Kaap, lord Charles Somerset in 1820 die eerste Grotte Regulasies ingestel.
Die formasies in die grotte is oor die eeue gevorm as gevolg van verskuiwingslyne in die bergreeks.
Daar is twee tipes toere by die grotte – een wat sowat ’n uur neem en dan vir die wat hul innerlike Indiana Jones wil vrylaat – ’n avontuurtoer van 90 minute. Toere word begelei deur toergidse wat ervare, kundige en opgeleide gidse is, en is ook beskikbaar in verskeie tale.
Stem hier: https://kfm.co.za/bestofthecape/