Nuwe digters genooi vir bydraes oor Covid-pandemie

DIGTERS wat nog nie gepubliseer het nie, het tot einde Februarie die geleentheid om gedigte voor te lê vir ’n nuwe Afrikaanse digbundel, oor die Covid-19-pandemie. Dié bundel, Maskers en mure, sal in Mei verskyn.

Dié bundel wil aan alle Afrikaanse digters – gevestig en opkomend – die geleentheid bied om uitdrukking te gee aan die impak van die pandemie op mense en hul lewe. Die samestellers is die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport. Dit word uitgee deur Turksvy Publikasies.

Gevestigde Afrikaanse digters is reeds genooi om voorheen ongepubliseerde gedigte voor te lê. Nou soek die samestellers na nuwe stemme – bydraes van digters wat tot dusver nog nie gepubliseer is nie, en as digter wil debuteer.

Alle bydraes moet die pandemie as kerntema hê.

“Digkuns is deur die eeue heen een van die kragtigste kunsvorme om die tydsgees van ’n historiese gebeurtenis vas te vang,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dit is juis in uitdagende tye wat die kunste en literatuur die magtigste wapen is: om te vermaak, te analiseer, te argiveer en as terapeutiese medium te help met ’n proses van heling.”
Marlene Malan, joernalis en medestigter van Turksvy Publikasies, sê Maskers en mure wil in versvorm die verhaal vertel van ’n jaar van isolasie en eensaamheid; van vrees en verlies. “Maar ook van ’n tyd waarin mense sin probeer maak uit hierdie verskrikking – deur skeppendheid en ondernemingsgees, waarvan dié digbundel ’n weerspieëling is”.

Belangstellendes kan hul bydraes teen Sondag 28 Februarie 2021 per e-pos aan Daniel Hugo stuur, by danielhugo.skryf@gmail.com.