“ALLE eer aan die Here. Ek kan nou weer leef.”
Dit was verlede week die woorde van Ben Murphy (71), ’n oud-gevangene wie se vervalle huis in Bongolethu deur inmates van die Oudtshoorn gevangenis tot ’n spogwoning vernuwe is en Donderdag aan hom en sy vrou, Sina, oorhandig is.
Volgens Donna le Roux van die gevangenis was dit die Oudtshoorn korrektiewe sentrum se manier om dankie te sê aan Murphy, alombekend as Oom Ben, ’n bouer van beroep, wat tydens sy elf jaar in die gevangenis sy vaardigheid gebruik het, baie bouwerk by die sentrum gedoen en ook gehelp het met die herbou van ’n bejaarde vrou van Volmoed se huis. Hy is egter na ’n beroerte vandag in ’n rolstoel en kon dus nie sy eie vervalle huis weer opbou nie.
“Hierdie is een van die inisiatiewe van die Suid-Kaap se areakommissaris, Ndileka Booi, wat einde November die tuig neerlê,” het Le Roux gesê.
Volgens Le Roux is Suid-Kaap Korrektiewe Dienste se “Terug Skooltoe”-projek ook Booi se inisiatief waarvolgens elke sentrum in die Suid-Kaap en Karoo elke jaar ’n skool “aanneem” en van toerusting en uitrusting vir behoeftige leerders voorsien.
Vir al die projekte kom die geld uit die sakke van die sentrums se personeel en rolspelers wat ruim bydraes lewer. Die opknapping van Murphy se huis is deur inmates van die Oudtshoorn sentrum gedoen wat sodoende “teruggee” aan die gemeenskap. Volgens Le Roux is die gemeenskap se belang baie belangrik by Korrektiewe Dienste wat ook daarin glo dat elke oortreder ’n tweede kans moet kry.
“Ons glo in tweede kanse,” het Le Roux beklemtoon.
Volgens die hoof van die Oudtshoorn gevangenis, Phillip Bush, was Donderdag ’n baie spesiale dag en het hy sy dank uitgespreek teenoor al die rolspelers vir hul rol in die opknapping van die huis.
Hy het die hoop uitgespreek dat Korrektiewe Dienste nie sal ophou om oud-gevangenes te ondersteun nie.
By dieselfde geleentheid verlede Donderdag is Oudtshoorn Korrektiewe Dienste se rugbyspan ook bekend gemaak wat tot die eindstryd in die kompetisie van die SWD Rugby Unie deurgedring het en Saterdag gelykop gespeel het en die trofee deel. (Deur Garnett Wicomb)


Foto’s bo: Oom Ben se huis na dit opgeknap is deur inmates van die Oudtshoorn gevangenis.

Bo: Die huis soos hy voorheen gelyk het. Oom Ben moes na sy beroerte van ’n rolstoel gebruik maak en kon dus nie sy eie huis weer opbou nie.