“Ek het net besluit, solank ek fisies in staat is en gesond genoeg is om te kan oefen, sal ek die werk en tyd insit om te kyk hoe vêr ek kan kom en wat ek kan bereik”
Oudtshoorn kan trots wees op Melanie Verlinde, bekende CrossFit-afrigter en eienaar van Black Mountain CrossFit.
Hoekom? Sy is een van tien deelnemers wat gekwalifiseer het om aan die internasionale CrossFit kompetisie ELFIT later vanjaar in Egipte te gaan deelneem. ELFIT is een van die grootste internasionale fiksheidskompetisies waar CrossFit-atlete vanoor die hele wêreld kan deelneem. Verlinde is in die “Masters” kategorie ingeskryf en slegs tien deelnemers word gekies van alle inskrywings in hierdie kategorie.
Daar is 11 kategorieë, waarvan een ’n gemengde span (mans en vroue) insluit. “Om te kwalifiseer moes ek eers inskryf vir die aanlyn kwalifiserende rondte, wat bestaan uit vier spesifieke oefensessies (“workouts”) wat binne twee weke gedoen moes word. Dit word by jou eie boks (“gym”) gedoen, elkeen op ’n video met ’n beoordelaar teenwoordig. Dan word jou tellings ingestuur, waarna punte toegeken word vir elke toets, wat al die dissiplines van CrossFit behels” vertel sy. Daarna word punte bymekaar getel en die top 10 met die meeste punte kwalifiseer dan om vanaf 16 – 18 November in Egipte teen mekaar te gaan meeding. Wat hierdie CrossFit-kompetisie egter anders maak, is dat dit nie net die normale CrossFit-bewegings insluit nie, maar sluit ook ’n “trail run” en selfs ‘n toets met swem ook in.
Die kompetisie vind oor drie dae plaas met verskeie oefensessies op elke dag.
Die verskeie rondtes word beoordeel op verskillende kriteria soos minimum rondtes of tyd be- perkings of selfs maksimumgewig vir ’n bepaalde hoeveelheid rondtes, wat deelnemers se punte bepaal en hul posisie op die punteleer.
Verlinde het egter in 2020 ’n probleem met haar skouer ontwikkel en moes vir intense behandeling en rehabilitasie gaan sodat haar skouer kon genees. “Ek het net besluit, solank ek fisies in staat is en gesond genoeg is om te kan oefen, sal ek die werk en tyd insit om te kyk hoe vêr ek kan kom en wat ek kan bereik,” vertel sy aan Die Hoorn.
“Om gesond te kan wees en elke dag op te staan met energie, met geen beserings of siektes nie is werklik ’n seën, en om dit nog saam met mense te kan doen wat jou passie deel is fenomenaal. Persone wat CrossFit, ondersteun en motiveer mekaar ongelooflik baie, en moedig mekaar aan, en dis wat die sport so uiters spesiaal maak.” En natuurlik is daar baie tegniek by alle CrossFit bewegings betrokke, wat jou in staat stel om bewegings optimaal uit te voer.
Alle energiesisteme word gebruik met CrossFit, en tesame met korrekte tegniek word oefeninge dan meer effektief gedoen. Dit help ook dat besering beperk word. “Daar is natuurlik geen beter gevoel as wanneer jy jou persoonlike beste tyd, of gewig wat jy kan optel verbeter nie, dis die beste gevoel want dan kan jy self sien dat die werk en tyd wat jy insit die moeite werd is.” sluit sy af.
Verlinde het in Mei vanjaar die vroue-afdeling by die West Coast Masters Series in Kaapstad algeheel gewen. (Deur Angelique Erasmus)
