Drie sterf die naweek om Oudtshoorn

Foto verskaf

DRIE persone het die naweek in twee afsonderlike voorvalle gesterf.

Die eerste ongeluk het Sondag omstreeks 16:00 plaasgevind, sowat 15 km buite Oudtshoorn toe ’n Datsun Go motor gerol het op die Rooiheuwelpad. Ses persone was in die voertuig.

Twee persone is in die ongeluk dood, waaronder een ’n kind was. Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie is die twee persone op die toneel deur paramedici dood verklaar. “Nog vier insittendes is per ambulans na die hospitaal geneem,” sê hy.

Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

Dit blyk die voertuig was na Oudtshoorn op pad vanaf Dysselsdorp.

In die tweede voorval is ’n persoon oorlede en vyf ernstig beseer tydens ’n ongeluk in ’n Volkswagen Polo sowat 28 km buite Oudtshoorn.

Die persone was vanaf George op pad na Oudtshoorn.

Die bestuurder is vir dronkbestuur in hegtenis geneem, en die polisie ondersoek ’n saak van manslag.

Die ongeluk het Sondag om 16:45 gebeur.

Een reddingsvoertuig is vanaf die een toneel na die ander ontplooi.