Nog niemand in hegtenis geneem na inbraak by skool

’N INBRAAK by Laerskool Laurus op Oudts­hoorn oor die naweek het die skool minstens R3 800 uit die sak gejaag.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoer­der van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval tussen 15:00 op Vrydag 11 Junie en 11:45 op Sondag 13 Junie plaasgevind.

Sy sê ’n sekuriteitswag het die skool gebel en ingelig dat daar by een van die klaskamers ingebreek is.

Michaels sê die deur van die klaskamer is oopgeforseer en goedere ter waarde van R2 300 is gesteel, met verdere skade aan die deur van sowat R1 500.

Michaels sê van die gesteelde bokse sneesdoekies en kospakkies is in ’n drom naby die skoolgevind. Ander gesteelde items sluit krui­deniers­ware, toiletpapier en boeke in. Volgens Michaels is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Die Hoorn kon die skool nie voor druktyd bereik vir kommentaar nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)