Kinderpornografie: oud-polisieman Mackintosh word eers in Julie gevonnis

DIE vonnisoplegging van ’n voor­malige polisieman van Oudts­hoorn wat op 200 klagtes van die besit van kinderpor­no­grafie skuldig bevind is, is Maan­dag in die Oudtshoorn Streekhof vir nog ’n maand tot 14 Julie uitgestel. Die saak is uitgestel omdat ’n korrektiewe toesigverslag wat deur die verdediging aangevra is, nog nie ontvang is nie.

Dale Mackintosh (64) is daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van ’n film of publikasie wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpornografie bevat.

Hy is in 2019 in hegtenis geneem nadat sy ge­wese vrou sy tabletrekenaar na die polisie geneem het nadat sy die foto’s op die rekenaar ontdek het.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het na die getuienis van ’n pornografie-deskundige van Pretoria, Mmaletjema Poto, die staat se saak gesluit en die hof vir Macintosh se skuldigbevinding op al die klagtes gevra.

Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê Poto se getuienis was betroubaar en deurslaggewend en die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys. Hy het Macintosh se getuienis dat hy die foto’s vir navorsing wou gebruik en die jeug wou beskerm, verwerp.

Macintosh, wat tans op Mosselbaai woon, is uit op waar­skuwing. (Deur Garnett Wicomb)