Nog ’n kind beland voor ’n voertuig

Deur Christine Schoeman
’N SESJARIGE meisie van Schoemanshoek is in ’n stabiele toestand in die kindersaal van die ­Oudtshoorn Hospitaal opgeneem nadat sy Maandag op die Kango Grotte-pad buite Oudtshoorn raakgery is.

Devidine Hoogaard (6) is in die omgewing van die Spieskamp deur ’n Toyota Quantam getref toe sy en ’n skoolmaat omstreeks 08:10 oor die pad gehardloop het op pad na Rodewal Primêr.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Devidine slegs geringe beserings opgedoen,

’n Ooggetuie, Adam Maart, sê die Toyota het nie vinnig gery nie en dat Devidine selfs opgestaan en probeer weghardloop het, waarskynlik van skok, nádat sy getref is. In daardie stadium was ’n ambulans nie dadelik beskikbaar nie en die bestuurder van die Toyota het die meisie na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.

Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement gesondheid in die Eden en Sentraal-Karoo Distrik, sê Devidine se toestand was stabiel nadat sy in die kindersaal opgeneem is.
Visser sê dat die polisie geen saak ondersoek nie.