Deur Liesel le Roux
DIE Wes-Kaapse regering en die nasionale departement van water en sanitasie gaan die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit bystaan met die R20 miljoen wat nog benodig word vir die eerste fase van die Blossoms-diepwaterprojek.
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het dié aankondiging gedoen nadat hy en amptenare van die provinsie en die nasionale departement van water en sanitasie die gebied verlede week besoek het.
“Ons wil verseker dat die dorp ’n ander waterbron het buiten die Raubenheimerdam,” sê Bredell.
Die Nasionale Tesourie het verlede jaar reeds R30 miljoen vir die eerste fase – wat ’n beraamde R50 miljoen sal kos – beskikbaar gestel.
Die eerste fase sluit die opstel van planne, betaling van professionele fooie en die aankoop van die nodige materiaal, soos die pype, in.
Die tweede fase van die projek behels ’n 22 km-pyplyn vanaf Blossoms se diepwaterboorgate na Oudtshoorn se bestaande waternetwerk.
Die pyplyn sal ook gekoppel word aan die bestaande Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) wat ook water lewer aan De Rust, Dysselsdorp en ook tans aan dele van Kannaland.
Volgens Bredell sal die totale Blossoms-projek na beraming R91,2 miljoen kos.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het vandeesweek gesê die munisipaliteit is dankbaar dat die projek van die grond af kan kom en dat die goeie verhouding van die munisipaliteit met die provinsiale en nasionale regerings positiewe resultate vir die inwoners van die streek lewer.
“Die suksesvolle implementering van die projek kan groot ekonomiese voordeel vir die Karoostreek inhou.”
Waterbesparingsveldtog suksesvol
Mangqwengqwe sê volgens terugvoer wat die munisipaliteit van Bredell ontvang het, is die minister baie tevrede met die munisipaliteit se waterbesparingsveldtog.
Oudtshoorn se inwoners gebruik tans die minste water in die streek met 121 liter per dag.
Die daaglikse verbruik in die dorp het van 19 Ml in Januarie 2018 geval tot 11,5 Ml per dag in Januarie 2019, wat toon dat die meeste waterverbruikers positief reageer op die versoek om water te bespaar.
Bredell het tydens sy besoek verlede week ook die tegniese dienste-afdeling ’n pluimpie gegee vir hul kundigheid en gesê hy het vertroue in die munisipaliteit se hantering van die Blossomsprojek.