Nog 6 kunswerke vir dorp!

Werkers van ’n plaaslike kontrakteur die week aan die bou aan een van die ses plekke waar funksionele kunswerke tans deur Absa as borg van die KKNK op Oudts­hoorn opgerig word.  Foto:  Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
NOG ses permanente en funksionele kunswerke word tans as deel van die KKNK op Oudtshoorn gebou en sal na die fees op die dorp agterbly!

Die kunswerke is nie net mooi en interessant nie, dit is daar vir inwoners om te gebruik – daarom word dit funksioneel genoem.

Verskeie van die kunswerke bied sitplek vir inwoners wat ’n bietjie wil rus, terwyl twee fietsrakke ook op verskillende plekke geïnstalleer word.

Die ses nuwe kunswerke volg op vyf kunswerke wat verlede jaar as deel van die Maakit Mooi-projek – ’n vennootskap tussen die KKNK, Absa as borg en die munisipaliteit – op die dorp gebou is.

Die nuwe kunswerke is net soos verlede jaar deur Absa L’Atelier-kunstenaars vanuit Afrika on­der die leiding van dr Paul Bayliss, Absa se kuns- en mu-­seumkurator, ontwerp. Dit word egter deur plaaslike kunstenaars en inwoners van Oudtshoorn gebou met materiaal wat ook uit die Oudtshoorn-omgewing kom.

Volgens Bayliss het daar ’n behoefte uit die gemeenskap gekom vir meer sitplek in openbare plekke en daarom bied vier van die nuwe kunswerke sitplek vir inwoners.

Hy sê Absa wil graag saam met die KKNK iets permanent op Oudtshoorn nalaat wat ook buite die feestyd geniet kan word, en voorts meehelp tot die verfraaiing van die dorp.

Die kunswerke wat tans gebou word, is:
• ’n Plekkie om jou hart te lig – stoele in die vorm van volstruiseiers wat speels in die rondte kan draai, by die Toekomsrus Gemeenskapsaal.

• ≠nõa – twee mure gebaseer op Absa se nuwe logo met bankies by, op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg oorkant die munisipale gebou.

• Unhatched – ’n fietsrak by die Absa-tak in Hoogstraat.

• Impressions – twee fietsrakke by die C J Langenhoven Gedenkbiblioteek.

• Struthio I – sitplek gebaseer op die vorm van ’n volstruisnek by die Nevadasaal in Bongolethu.

• Struthio II – ’n houtbank wat volstruis-bene naboots voor die Burgersentrum.

Die plaaslike kontrakteurs en kunstenaars betrokke is Callie Koch, Anton Roetz, Makka Swart Konstruksie en Madeleine Miles. Miles is ook die oorhoofse projekbestuurder van al die kunswerke.
Die vyf kunswerke wat verlede jaar opgerig is, is ’n sonhorlosie uit klip van die omgewing by die Burgersentrum, ’n selfoon-hokkie op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reede- straat, ’n wipplank waarop groepe mense kan sit by die De Jager Sportsentrum, “volstruiseier-sitplekke” langs die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek en ’n gemeenskapskunsprojek op die loopvlak voor die CJ Langenhoven Biblioteek.