Nic Barrow begin nog ’n fees – die keer op Franschhoek!

Foto: Facebook Le Lude Cap Classique

DIE bekende Nic Barrow wat as sakeman op Oudtshoorn verskeie feeste op die dorp geïnisieer het, het nou ook ’n fees vir Franschhoek begin.

Barrow was die man agter die KKNK en Klein Karoo Klassique, en het ook ’n jeugfees – wat later meer omskep is in ’n sportfees – op Oudts­hoorn die lig laat sien.

Dié feeste het derduisende mense oor die jare na Oudtshoorn gelok en ’n massiewe rol gespeel om ’n klein plattelandse dorp se ekonomie te stimuleer en ’n inkomste vir baie inwoners te skep.

Die eerste Franschhoek Chamber Music Festival (FCMF) met die Kaapse Filharmoniese Orkes vind van 24 tot 27 Februarie plaas. Die program bied tien konserte by verskillende venues, asook wynproe-geleenthede, etes en kunsuitstallings.

Nic en Ferda Barrow is die eienaars van die Le Lude Wynlandgoed in Franschhoek, maar ook steeds van Rosenhof, ’n boetiekhotel op Oudtshoorn. (Deur Liesel le Roux)