Net een week tot Oudtshoorn se klassieke winterfees

Die bekende pianis Charl du Plessis sal weer vanjaar by Klein Karoo Klassique te sien wees. Foto verskaf

NA twee jaar se afwesigheid is Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se winterfees wat jaarliks rondom die Vrouedag-langnaweek in Augustus aangebied word, einde volgende week weer terug!

As gevolg van Covid-19 het die fees in 2020 glad nie plaasgevind nie en in 2021 slegs ’n verkorte feesprogram oor ’n naweek in September. Op Vrydag 5 Augustus skop die 13de Klein Karoo Klassique egter weer in die Klein Karoo af en eindig op Dinsdag 9 Augustus.

Die meeste uitvoerings word vanjaar in die Oudtshoorn Burgersentrum aangebied.

Die Burgersentrum sal vanjaar die hart van die fees wees met die Banketsaal bo wat omskep word in ’n kuierarea waar etes, musiek, literêre gesprekke, wynproë, ’n kunsuitstalling en veel meer geniet kan word.

“Ons is opgewonde om weer klassieke musiekliefhebbers van heinde en verre op die pragtige Oudtshoorn te verwelkom”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

“Klassique is ’n viering van klassieke musiek, maar ook ’n lekker kuierfees met kos-, proe- en wynervarings. Vanjaar word boekgesprekke met onder meer bekroonde skrywers ook ingesluit.”
Theart sê die program is saamgestel om ’n verskeidenheid werke en instrumente te bied en sluit van die land se topmusikante en -sangers in.

Hoogtepunte op die musiekprogram wat uit 13 konserte bestaan, is die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis se Songs for my Mother, asook die sopraan Lynelle Kenned wat in Handel at Home die verhoog deel met die sopraan Hlengiwe Mkhwanazi, Ingo Müller (barokhobo), Cheryl de Havilland (baroktjello) en Erik Dippenaar (klavesimbel) vir ’n program van kamermusiek van Handel. Laasgenoemde optrede vind plaas by De Opstal en kaartjies sluit ’n ligte ete in met ’n kontantkroeg beskikbaar.

Klein Karoo Klassique word vanjaar op ’n hoë noot geopen met die Klassique Galakonsert en lede van Kaapstad Opera, Janelle Visagie (sang), Alida Stoman (sang), Monica Mhangwana (sang) en José Dias (pianis) met bekende opera-arias, duette en ensembles uit musiekteater.

Drie uitvoerings word deur verskeie kunstenaars van die Kaapstad Filharmoniese Orkes aangebied, naamlik Cello and Piano Recital met pianis Megan-Geoffrey Prins en tjellis Peter Martens; Trio of Trios met die violis Suzanne Martens, alt-violis Karin Gaertner en tjellis Peter Martens, terwyl lede van die Kaapse Filharmoniese Orkes en die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes optree in A Celebration of Youth.

Voorts bied die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes in Baroque to the Future ’n program aan wat die uitdrukkingsvolle kwaliteite van 18de-eeuse musiek uitbeeld. Sopraan Hlengiwe Mkhwa-nazi sluit by hulle aan terwyl Erik Dippenaar die uitvoering van agter die klavesimbel lei, soos wat die gebruik in die Baroktydperk was.

Kuns, boeke, kaartjies, erblyf, feesgids
’n Kunsuitstalling van verskeie kunstenaars met die titel Music Sounds Better With You sal in Liplekker by die Burgersentrum uitgestal word en te koop wees.

Drie skrywers neem vir die eerste keer ook deel aan Klassique: die Hertzogprys-wenners Ingrid Winterbach en Johan Myburg en die Oudtshoorniet adv Pieter van Wyk. Boeke en aandenkings kan in die Boekeparadys gekoop word.

• Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za), Pick n Pay-winkels regoor die land, of die KKNK-kantoor. ’n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 klassieke musiek-uitvoerings is beskikbaar teen R1 300 of enkelkaartjies kan vir uitvoerings gekoop word.

• Bespreek jou verblyf by www.lekkeslaap. co.za/akkommodasie-naby/klein-karoo-klassique
• Laai die feesgids af by www.klassique.co.za of kontak 044 203 8600. (Deur Liesel le Roux)