Dié klokke gaan nou weer lui vir Oudtshoorn!

Biskop Noel Rucastle van die St Saviour Rooms-Katolieke Bisdom van Oudtshoorn by die kloktoring wat tans in Baron van Reedestraat gebou word. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE klokke van die St Saviour Rooms-Katolieke Kerk in Baron van Reedestraat lui al bykans 20 jaar nie meer nie nadat dit uit die kerktoring verwyder moes word as gevolg van die gewig daarvan, maar binnekort gaan Oudtshoorniete weer gereeld die klokke se roepende gelui in die dorp hoor.

Volgens biskop Noel Rucastle, wat nou sowat twee jaar lank op Oudtshoorn is, gaan die klokke nie net vir die Rooms-Katolieke gemeenskap lui nie, maar vir die hele dorp.

Hy sê hy hoop dat die klokke sal help om ’n positiewe gesindheid in die dorp te skep, en ’n baken van hoop sal wees.

Hy het juis toe hy hoor hy kom Oudtshoorn toe, ook die verhaal gehoor van die vier klokke in die dorp wat al lank nie meer lui nie. Die klokke is 56 jaar gelede met die bou van die kerk spesiaal deur Petit & Fritsen in Nederland vir die katedraal in Oudtshoorn gemaak. Dié maatskappy bestaan steeds.

Die klokke is destyds met nogal ’n hele gedoen­te uit die kerktoring verwyder omdat die vrees bestaan het dat die struktuur nie meer hul gewig kon dra nie.

“Die gedagte het toe al by my opgekom dat die klokke weer móét opgaan. Ek weet die gemeente wou dit ook lankal laat doen, maar weens verskeie redes was dit nie moontlik nie.

“Vir twee jaar het ons beplan waar die klokke geïnstalleer sal word, geld ingesamel en die nodige bouplanne en -permitte verkry om die lui daarvan weer vir Oudts­hoorn se gemeenskap moontlik te maak,” vertel hy.

Volgens biskop Noel het ’n familie van Oudts­hoorn, wat tans anoniem wil bly, ook ’n groot bydrae gelewer tot die projek. “Dit was hul geskenk aan die kerk,” voeg hy by.

“Deel van ons opgewondenheid oor die klokke, was van die begin af omdat dit vir die hele Oudtshoorn-gemeenskap bedoel is, nie net die Rooms-Katolieke gemeenskap nie. Dit is vir die dorp – almal sal dit kan hoor. Ons kan nie wag nie!” sê hy opgewonde.

Die bouwerk aan die toring van 10,5 meter waarbinne die klokke sal hang, is reeds in volle swang.

Die klokke sal nie net Sondae lui en vir byvoorbeeld troues en begrafnisse nie, maar sal ook een maal daagliks gehoor kan word.

Die vier klokke weeg saam byna ’n ton met elk­een wat ’n eie klank en ’n eie naam het. Van die grootste tot kleinste is die name Salvator Mundi, wat verwys na Jesus Christus, die Redder van die wêreld en ook St Saviour; Advocata Nostra, wat verwys na Maria, moeder van Jesus; Apostolatum Significer, die apostoliese boodskapper – simbool van die verkondiging van die evangelie; en Protector Ecclesiae, die beskermer van die kerk, St Joseph.

Die klokke sal volgens biskop Noel geprogrammeer kan word om op verskillende maniere te lui, afhangend van die geleentheid. Die toring wat sigbaar is vanuit Baron van Reedestraat sal saans verlig word wat dit ’n baken in dié straat sal maak.

Bouwerk aan die toring behoort volgens biskop Noel teen November voltooi te wees, wanneer dit amptelik geseën en met ’n groot feesviering onthul sal word.

Hy sê hy hoop die klokke sal deel word van Oudts­hoorn; so eie aan die dorp soos die volstrui­se, Kango Grotte en die KKNK. (Deur Stefan Skapie Goosen)