Calitzdorpers gaan nou so slaggate takel

“Gatvol” kry nou ’n nuwe betekenis op Calitzdorp met inwo-ners wat besluit het om in te gryp, betrpokke te raak en saam met die munisipaliteit slaggate op die dorp te herstel.

CALITZDORPERS het be­sluit om in te spring en self betrokke te raak by die herstel van slaggate in die dorp se strate.

Hierdie is ’n inisiatief van die Calitzdorp-komitee van die Kannaland Inwoners- en Belastingbetalersvereniging, sê Gielie Bas­son, een van die betrokkenes by die komitee, en gaan in samewerking met die plaaslike munisipaliteit gedoen word.

Die belastingbetalersvereni­ging beoog om oor die volgende aantal maande maandeliks sakke teer – ’n produk wat gereed is vir gebruik in slaggate – aan te koop met behulp van donasies van inwoners.

Die munisipaliteit het ook betrokke geraak met munisipale werkers wat die opvulwerk in die strate sal doen.

Volgens Basson word die sak­ke teer by die koöperasie aan­gekoop wat dit vir die projek teen ’n spesiale prys verskaf.

Basson sê met die projek wil hulle hul dorp verbeter, en terselfdertyd inwoners en besoekers se voertuigbande beskerm en dit ook makliker maak vir ambulanse, polisie- en ander nood­voertuie om vinnig en veilig by noodgevalle uit te kom.

“Ons gaan begin in Voor­trek­kerstraat sodat ons hoofstraat mooi kan lyk en veilig kan wees vir mense wat met die R62 deur Calitzdorp ry.

“Daarna sal die hoofroetes in Calitzdorp soos Queenstraat, Andries Pretoriusstraat na die hoër­skool en Calitzstraat vanaf Groenfontein asook hoofroetes in Bergsig aangepak word.

“Hierna sal die hoofsystrate aan die beurt kom.”

27 sakke teer is reeds befonds, maar volgens Basson sal nog veel meer nodig wees. Hy het mense aangemoedig om betrok­ke te raak.

So ’n sak teer by die koö­pe­rasie kos R98. Mense kan self ’n sak by die koöperasie gaan koop en dit afgee by Zamani Grill, of ’n kontantdonasie afgee by Zamani Grill of ’n oorbetaling per EFT doen.

Basson se kontakbesonderhede verskyn op die foto bo.

Basson sê hy glo dit is belang­rik vir die inwoners van ’n dorp om op te staan en in samewer­king met die munisipaliteit betrokke te raak waar herstelwerk nodig is.

“Ons beoog om ook betrokke te raak by ’n straatligprojek om seker te maak donker kolle in die dorp word verlig en beoog om dit te doen deur straatligte om te skakel na sonpaneelligte.” (Deur Liesel le Roux)