Die wêreldwye COVID-19-pandemie stel nuwe en groot uitdagings aan die mensdom. Weens die aansteeklikheid van die virus blyk inperking ’n suksesvolle maatreël te wees wat eerste in China ingestel is en bygedra het om die toename in
infeksies met die virus in dié land te stuit.
Inperking is sedertdien in verskeie lande aangekondig, en nou ook in Suid-Afrika waar die Covid-19-infeksies gister (25 Maart) op 709 gestaan het. Die eerste mens in die land is op 5 Maart positief getoets vir die virus. Op 15 Maart het die getal infeksies op 13 gestaan, op 20 Maart op 52 en gister (25 Maart) op 709. Dit is duidelik dat die getal infeksies eksponensieel toeneem.
Dit is dus duidelik dat die inperking baie ernstig opgeneem moet word. As COVID-19 eers onder kwesbare mense en gemeenskappe posvat, is die gevolge te gruwelik om oor te dink.
’n Mens sien die laaste tyd talle video’s op nuus- en sosiale media waar dokters en gesondheidswerkers, wat in die voorste linie teen COVID-19 veg en die risiko loop om self die virus op te doen, as ’t ware pleit dat mense by die huis moet bly.
Die Hoorn wil dus ons lesers en alle inwoners van die Klein Karoo aanmoedig om gehoor aan die inperking te gee, by die huis te bly en betrokke regulasies te gehoorsaam. As jy gaan inkope doen, handhaaf ’n gesonde afstand van minstens 1,5 m van ander kopers af. Was en reinig jou hande voor jy winkel toe gaan sowel as wanneer jy weer by die huis kom. En, en, en…
Deur nou by die huis te bly en verantwoordelik op te tree kan ons verhinder dat nog ’n inperking afgekondig word.
Laastens wens ons almal sterkte en genade toe tydens die inperking. Dit gaan nie maklik wees nie en ons geduld beproef.
