Koronavirus, ouetehuise en aftreeoorde

VOORSORGMAATREËLS is reeds vroeg ver­lede week betref om ouetehuise en aftreeoorde te beveilig tydens die huidige COVID-19-pandemie.

Nicolette van der Walt, nasionale bestuurder van die ACVV, wat Tuishuis, Helen Bellinghanhof en Gottland House bestuur, sê dat die volgende maat­reëls getref is:

• Residensiële fasiliteite is gesluit, en inwoners mag slegs die perseel verlaat vir dringende mediese besoeke.

• Geen besoekers word by oorde toegelaat nie.

• Aksiekomitees is gestig om besluite op kort kennisgewing te kan maak.

• Eetkamers is verskuif om groter afstand tussen inwoners tydens etenstye te verseker. Etes kan ook in kamers bedien word as dit so sou verkies word.
“Daar is ook tafels na die tuin geskuif sodat inwoners maaltye buite kan geniet op dae wat die weer dit toelaat,” sê sy.

• Funksies, uitstappies, vergaderings en alle nie-noodsaaklike instandhoudingswerk is gekan­selleer.

Verder sê Van der Walt dat kinders en families van bejaardes hulleself en hul ouers moet bemagtig met soveel inligting soos moontlik.

“Ouer persone moet kontak met die buitewêreld vermy, maar steeds kontak hou met familie en ander deur middel van gereelde telefoniese kontak, skype-oproepe en selfs WhatsApp.”

Kospakkies kan steeds by ouetehuise afgelewer word, en enige leesstof sal ook goed wees vir persone wat nie kan uitgaan om boeke en tydskrifte te koop nie.

Liesl Neethling, bemarker van die Caves Aftree­oord, sê dat hulle reeds verlede week hul versor­gingseenheid onder afsondering geplaas het, en dat hulle vanaf Dinsdag streng maatreëls getref het vir die res van die oord. (Deur Angelique Erasmus)