Nee vir verkragter se appèlaansoek

’N AANSOEK van ’n munisipale amp­tenaar van Oudtshoorn om teen sy skul­digbevinding en vonnis te appelleer, is in die Oudtshoorn Streekhof geweier.

Hamilton Claassen van Dysselsdorp (32) is aan ver­kragting skuldig bevind en 10 jaar ge­vangenisstraf opgelê. Die hof het bevind dat hy op 3 Augustus 2018 ’n studentkonstabel van Springbok in ’n vriend se huis verkrag het nadat hulle drie vroue ’n rygeleentheid van ’n nagklub gegee het, en die kollege-hekke gesluit was toe hulle daar aankom. Die hof kon nie buitengewone omstandighede vind om van die voor­geskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

Claassen het in sy aansoek aangevoer dat die hof fouteer het en ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom.
Streeklanddros Daniel Boks het egter in sy uitspraak gesê verdoemende ge­-tuienis wys die vinger na Claassen en sy aansoek van die hand gewys. (Deur Garnett Wicomb)