DIE moordsaak teen drie verdagtes, twee minderjariges, is op 17 Junie in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor tot 5 en 6 Augustus uitgestel.
Graydon Daniels (19) en sy twee medebeskuldigdes van Rose Valley, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, word van die moord op Brandon September (19) naby die “Blinkhokke” aangekla.
Hulle pleit onskuldig.
Drie minderjarige ooggetuies het verlede week deur middel van ’n tussenganger getuig hoe die oorledene die aand van 12 Desember 2019 met ’n kapmes geslaan en met ’n mes in die bors gesteek is.
Die saak dien voor streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad.
Daniels en die tweede beskuldigde word aangehou terwyl die derde beskuldigde in sy voog se sorg vrygelaat is. (Deur Garnett Wicomb)