
Opknappingswerk aan die badkamers. Foto’s: Stefan Skapie Goosen
DIT is te danke aan samewerking en donasies uit die privaatsektor dat inwoners van Oudtshoorn en sportlui van heinde en verre dié somer hul sal kan verlustig in die skoon water van die NA Smit-swembad op die dorp.
Dieselfde geld die skoner, opge – knapte kleedkamers en badkamers by die swembad.
Verteenwoordigers van die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) het
Dinsdag by die swembad vergader om bestek op te neem van wat alles tot dusver daar verrig is.
Die OSI, ’n organisasie wat poog om alle sportkodes te laat saamwerk, die kollig op hul kommer en probleme te laat val, asook probeer omsien na die toekoms van sportgeriewe in die dorp, is reeds ’n geruime tyd betrokke by opknappingswerk by dié swembad.
Sakelui en plaaslike besighede het reeds meer as R50 000 in materiaal en arbeid bygedra vir opknappings van die ablusiegeriewe daar.
Inwoners het vrywillig ingespring om die geriewe by die swembad op te knap, terwyl lede van die OSI borge en skenkings vir materiaal, soos teëls en verf verkry het. United Paints and Pools, Kleinplaas, Timbercity, Build it en Bert Verlinde is tot dusver betrokke.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Twee kamp en lid van die OSI, sê dat nie net sport – klubs en -organisasies betrokke kan raak by OSI nie, maar ook besighede en individue met belange in die dorp se sport en toekoms en hulle aangemoedig om by die OSI aan te sluit.
Kontak gerus vir Van der Walt by sel 082 773 4901.
Opknapping van geriewe en die swembad sal tot 18 November gedoen word, wanneer die Oudtshoorn Munisipaliteit beoog om alle swembaddens in die Groter Oudtshoorn oop te stel vir die publiek.
Dit sal later weer hervat word, want volgens die OSI is daar nog baie werk om te doen om te verseker dat die swembad weer op standaard is vir kompetisies en ander byeenkomste.
Die Oudtshoorniet Wilma Pienaar hou namens die OSI toesig oor die projek en bedryf dit namens die OSI. (Deur Stefan Skapie Goosen)