Kannaland: ANC ontevrede oor aanstelling van Jordaan

Keith Jordaan, waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland. Foto: Deon Meyer

HULLE is ontevrede met die aanstelling van Keith Jordaan as waarnemende munisipale bestuurder in Kannaland by ’n raadsvergadering in Oktober, sê die woordvoerder van die Kannaland ANC-tak, Elvis Ntlebi, in ’n mediaverklaring wat op 8 November uitgereik is.

Volgens die verklaring is Jordaan onwettig aangestel omdat hy in 2019 tydens ’n interne tugverhoor op George skuldig bevind is aan finansiële wanadministrasie by die George Munisipaliteit in verband met ’n belegging van meer as R300 miljoen.

Hy is daarna deur die George-raad ontslaan.

Ntlebi sê amptenare mag in so ’n geval 10 jaar lank nie ’n plaaslike regeringspos beklee nie.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike rege­ring, Anton Bredell, word voorts gekritiseer omdat hy nie die Kannaland-raad aanspreeklik hou vir dié aanstelling en daar ingryp nie.

Bredell sê egter hy skenk wel aandag aan die situasie en het reeds vir ’n regsmening oor die aanstelling van Jordaan gevra. Hy sal op grond van die regsmening optree.

“Weens die moontlike implikasies van die SAMWU-uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor die relevante bepalings wat herindiensneming van afgedankte personeel reguleer, vereis ek regsekerheid voordat enige besluite geneem word.”

• Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in 2021 aangedui dat hulle nie vir Jordaan weens bedrog in verband met die belegging gaan vervolg nie omdat daar geen getuienis was dat enige misdadige oortreding begaan is nie.

Dit het gevolg nadat ’n voormalige munisipale bestuurder van George, Trevor Botha, ’n klagte teen Jordaan ingedien het. (Deur Deon Meyer)