’N ANC-AFVAARDIGING se besoek Dinsdag aan die CP Nel Museum op Oudtshoorn is genoodsaak deur ’n regsproses wat die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, begin het, “gemik daarop om die museum uit ’n gebou wat deur die raad besit word te verwyder, ten spyte van ’n ooreenkoms wat tussen die munisipaliteit en die museum geteken is vir ’n onbepaalde tydperk.”
So sê Cameron Dugmore van die ANC en Wes-Kaapse leier van die opposisie. Volgens hom het plaaslike ANC-raadslede die party ingelig dat Macpherson sy besluit nooit in die raad bespreek het nie.
Volgens Macpherson egter is ’n uitsettingsbevel wat op die museum beteken is, ’n dringende ingryping “om onherstelbare skade aan ’n belangrike bate van Oudtshoorn se kulturele erfenis te voorkom.”
“Dit is vir my skokkend dat so ’n belangrike erfenis- en toerisme-aantreklikheid misbruik en in der waarheid geskaak word vir mense se persoonlike agendas ten koste van Oudtshoorn se mense. Die museum behoort aan Oudtshoorn en moet deur Oudtshoorn bestuur word,” het hy onlangs in ’n verklaring gesê.
Dugmore het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit was sy eerste besoek aan die museum dat hy diep bemoedig is deur wat daar uitgestal word en die werk wat deur die CP Nel Museumraad gedoen is om te verseker dat ’n inklusiewe geskiedenis van die Groter Oudtshoorn weerspieël word.
Dit sluit, luidens sy persverklaring, die geskiedenis in van groepsgebiedeverwyderings, gedwonge verskuiwings en die anti-apartheidstryd in Oudtshoorn. “Dit is op rekord dat Oudtshoorn die eerste munisipaliteit was wat die groepsgebiedewet in werking gestel het,” sê hy.
Volgens Dugmore en die ANC bestaan daar ernstige vrae rondom Macpherson se “agenda en belange” by die museum. “Sonder ’n mandaat van die raad het hy regsdienste verkry, en wat ook kommerwekkend is, is die oortreding van sekere winkelsentrum-huurders op eiendom van die museum. Of van dié besighede belasting of vir dienste betaal, moet ondersoek word,” lui die verklaring.
Die ANC het op vier stappe ooreengekom wat op hierdie proses moet volg; onder meer dat die saak tydens ’n November-raadsvergadering moet bespreek word; dat gemeenskapslede betrokke moet raak en die nasionale raad van provinsies moet nader; dat Nathi Mthethwa, nasionale minister van kultuursake en sport betrokke moet raak en dat die openbare beskermer moet ondersoek instel.
Die kantoor van die burgemeester het in ’n persverklaring gereageer op wat beskryf word as “politieke inmenging deur ’n ANC-parlementslid in die Oudtshoorn Munisipaliteit as ’n soewereine sfeer van plaaslike regering”. Luidens die verklaring het Macpherson nie in sy persoonlike hoedanigheid optree nie, “maar as verkose eerste burger van die dorp” om inwoners se belange te beskerm.
“Dit is nie die eerste keer dat dié ANC-parlementslid inmeng in plaaslike regering op Oudtshoorn nie. Wat bewys is, is dat die museumraad ’n politieke agenda het, en ek vind dit interessant dat die ANC nou betrokke geraak het. Wat selfs meer interessant en ontstellend is, is dat geen van my bekommernisse wat ek herhaaldelik oor die museumraad uitgespreek het, deur mnr Dugmore aangespreek is nie.
Die reg om die belange en regte van inwoners te beskerm, is volgens Macpherson ’n uiters belangrike deel van sy werk as burgemeester, en ook dié van die munisipale bestuurder.
Hy sê “sake-eiendom en ontwikkeling” van meer as R80 miljoen (by die Queen’s Mall) is nog nooit as deel van die museum beskou nie. “Dit is presies waar die museumraad hul gesag oorskry. Dit was nooit ’n kwessie voor die totstandkoming van die huidige museumraad nie.”
Volgens Macpherson vind hy dit vreemd dat die ANC die kwessie wil bespreek terwyl twee verkose raadslede toegang tot die museumraad geweier is. “Ek wil dit graag onder u aandag bring, mnr Dugmore, dat die museumraad die eerste regsgeding begin het. Miskien sal ’n forensiese ondersoek lig werp op waar die befondsing vir daardie regsaksies vandaan kom.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
CP Nel Museum: Dugmore betwyfel Macpherson se ‘agenda’
