‘Hy het alles voluit gedoen’

Die laaste oorskot van Jamey Le Kay word tydens sy begrafnis deur famililede na die lykswa gedra. Foto: Garnett Wicomb

Jamey Le Kay (26)

“JAMEY was die slim een onder sy hoërskool- en universiteitsmaats en altyd bereid om te help.”
So is die 26-jarige Jamey Le Kay van Oudts­hoorn, enigste seun van Deon en Delianne Le Kay, tydens sy begrafnisdiens op Saterdag 5 November in ’n volgepakte Weyers Memorial United Congregational Kerk deur twee van sy voormalige klasmaats beskryf.

Le Kay, wat as siviele ingenieur by Transnet op Upington gewerk en die laaste tyd as onderhoudsbestuurder waargeneem het, is op Sondag 23 Oktober daar in ’n motorbotsing oorlede.

Esjohnne Goliath wat saam met Le Kay in matriek was, het hom in ’n huldeblyk as ’n briljante student beskryf wat altyd bereid was om ander te help.

Sy skoolmaats het soggens glo vir hom gewag sodat hulle sy huiswerk kon afskryf…
Volgens Goliath was Le Kay die soort seun waaroor enige ouer kan droom.

Ronald Radebe van Transnet in Upington het in sy huldeblyk Le Kay as ’n hardwerkende jongman beskryf wat hulle verskriklik gaan mis.

Volgens hom het Jamey sy kollegas voortdurend aangemoedig om ten spyte van jou sukses in die lewe altyd nederig te bly en die Here lief te hê. Sy boodskap aan Jamey was om in die hemel voort te gaan met die werk wat hy op aarde gedoen het.

Lekay se vriendin, Amber Farmer, het in haar huldeblyk gesê dat sy werk­etiek haar geleer het om altyd hard te werk.

“Jamey het alles wat hy gedoen het voluit gedoen en was ’n ware heer. Sy ideaal was om eendag ’n miljoenêr te wees, te trou en twee kinders te hê.”

Volgens haar was hy nog iemand wat die deur van ’n motor vir ’n vrou oopgemaak het.
Le Kay se suster, Cayla, het in haar huldeblyk gesê sy sal haar broer behalwe vir sy prestasies op skool en universiteit, ook onthou vir sy besondere talent as swemmer, atleet, rugbyspeler en later ook as lewens­redder.

Hy het matriek met drie onderskeidings ge­slaag. (Deur Garnett Wicomb)