’N MOEDER se stryd om vir haar familie te sorg is een wat nooit eindig nie. Sy sal haar hande af baklei om te voorsien vir hulle, om seker te maak hulle is gelukkig en gesond. Haar deursettingsvermoë is ook ’n wapen in hierdie stryd, al word deure links en regs voor haar toegemaak.
Dit is kortliks die verhaal van Rosebank-inwoner Danielle Smith (29), ’n eggenoot, ma van twee en leerling-verpleegster van Oudtshoorn wat onverpoos probeer om haar studies by ’n plaaslike verpleegskool te voltooi.
Danielle sê haar droom was nog altyd om ’n verpleegster te word, om in die teater te werk en mense te help. “Maar dit is ook om saam met my man, Johliscio vir my kinders te voorsien. Hulle toekoms is baie belangrik!”
Haar seuntjie, Jean-Luc (9) is outisties, en woon Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn by. “Hy is nou al die afgelope drie jaar in die outisme-eenheid daar, en doen baie goed. Ek kry nooit klagtes oor hom nie, ek kry eintlik baie komplimente oor hom,” vertel sy trots. Haar dogtertjie Daschin is 3 jaar oud.
Danielle is tans met ’n een jaar-kursus besig waarvoor sy reeds R48 000 op haar eie kon insamel en betaal, maar sy het verder R12 000 nodig om haar toe te laat om eksamen te skryf en haar uitslae te kry. Haar eksamen begin 14 November.
“Ek was nou al oral om hulp te probeer kry. Die Munisipaliteit kon my nie help nie, die Wes-Kaapse departement van gesondheid kan nie help nie, selfs nie eens die nasionale studentefonds (NSFAS) wil my help nie, omdat ek by ’n privaat-kollege is. Daar is ook nêrens beurse beskikbaar nie. Ek weet nie meer wat om te doen nie,” het sy met ’n swaar gemoed gesê.
Sy sit ook nie net op haar hande, of staan bakhand by ander om haar te help nie. Danielle het vertel dat sy al telkemale deur die jare probeer het om self die geld in te samel. Sy het al kos verkoop, visbraaie en fondsinsamelings gehou om tot haar studiefooie by te dra.
Dit ook nog na jare se aansoeke aan universiteite en kolleges landwyd vir ’n beurs om haar droom te vervolmaak.
Danielle het vertel dat sy ’n absolute passie vir verpleging het, wat reeds op skool ontwikkel het. Sy het op Ladismith grootgeword en skoolgegaan en matrikuleer. In graad 11 het sy reeds as vrywilliger by die hospitaal gewerk, en haar liefde vir verpleging ontdek. Sy het ook daar ’n noodhulpkursus geloop.
Haar ouma was volgens Danielle ook ’n verpleegster wat meer as 1 000 baba’s gedurende haar loopbaan “gevang” het. “Sy het my werklik inspireer! Ek sal baie graag ’n kraamsuster wil wees, en ook in trauma wil werk,” het sy gesê.
“Die belangrikste deel hiervan is my passie daarvoor om mense te help en met hulle te werk. Die mooiste ding van verpleging is dat jy nader aan God leef deur om vir mense te doen wat hulle nie vir hulself kan doen nie.
“Jy is nie net daar om fisies na hul om te sien nie, maar ook na hul geestestoestand om te sien. Baie keer het pasiënte niemand wat daar is vir hulle nie, en dan is dit ons werk as verplieërs om in te staan. Ek wil verder leer om as ’n suster te kwalifiseer, want ek weet ek kan dan soveel meer doen vir mense,” het sy passievol gesê.
Sy het bygevoeg dat sy nie die pasiënte as bloot net pasiënte sien nie, maar dat hul maklik haar pa, ma, broer of suster kon wees. “Of selfs my kind. Die kern van die saak is dat ek mense wil help, tot my volle vermoë!”
Al perk haar huidige finasiële verknorsing haar in, het Danielle gesê dat sy vasbeslote is om haar droom waar te maak. (Deur Stefan Skapie Goosen)
’n Moeder se stryd is nimmereindigend
Danielle Smith (regs), ’n hardwerkende leerling-verpleegster wat vergeefs haar studies probeer befonds, saam met (van links) haar man, Johliscio Smith, haar dogtertjie Daschin en seuntjie Jean-Luc. Foto: Stefan Skapie Goosen