DIE verhoor van ’n man van Hazenjacht naby Dysselsdorp wat tereg staan op ’n klagte van moord en daarop aangedring het dat die hof twee assessore uit die gemeenskap vir sy verhoor aanstel, is in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van twee polisiebeamptes vir verdere verhoor tot 25 November uitgestel.
Andrew Blaauw (27) word van moord op ’n sewentienjarige seun, Gershwin Olivier, op 6 November 2020 aangekla.
Die ondersoekbeampte in die saak het getuig dat hy Olivier se liggaam in die huis van Clive Baartman aangetref het met ’n steekwond in die nek en twee in sy rug.
Die beskuldigde was nie op die toneel toe hy daar aangekom het nie.
’n Ooggetuie, Mario Oosthuizen, het vroeër getuig dat Blaauw nie die waarheid praat wanneer hy sê dat hy homself verdedig het nie.
Volgens hom het Olivier nie ’n mes by hom gehad nie, en het die beskuldigde sy slagoffer van agter gesteek.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni wat deur twee assesore bygestaan word. Blaauw bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)