Bedrieër se vrou ontken dat sy van man se bedrog weet

SY weet niks van haar man se sake nie omdat hy haar nooit daaroor ingelig het nie. So het Desiree Bowkers (40) Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof onder kruisverhoor, deur die staat, getuig.

“My man was nie eerlik met my gewees nie en ek het nie eers geweet watter soort werk hy doen nie. Ek het al vir hom gevra of hy vir ’n baas werk, maar hy het dan ander goed gepraat en my nie geantwoord nie,” het Bowkers op ’n vraag van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, getuig.

Sy staan saam met haar man, Ricardo (41), wat tans ’n vonnis van 12 jaar uitdien vir bedrog en geldwassery, tereg op nog 22 soortgelyke klagtes.

Hulle het na bewering vals eise by Santam en Mutual & Federal ingedien. Van die oortredings is na bewering gepleeg terwyl Ricardo in aanhouding was.

Desiree Bowkers het Vrydag volgehou dat sy nie bewus was waarmee haar man besig was nie.

Goulding het dit egter aan haar gestel dat die meeste van die eise by Santam ingedien is terwyl haar man in die tronk was.

Volgens die staat het sy bankrekenings op die name van hul twee minderjarige seuns geopen en is baie van die geld wat geeïs is, in die rekeninge inbetaal.

Volgens die staat het sy deur middel van ’n bewaarder die simkaarte aan haar man verskaf en het hy dan Santam uit die tronk gebel om eise in te dien.

Omdat die kinders minderjarig was, het sy die rekeninge gebruik om geld te onttrek.

Bowkers het al die staat se bewerings ontken en gesê dat haar skoonmoeder die bankkaarte opge­sny het. Sy kon egter nie verduidelik waarom dit gedoen is nie.

Sy het ook volgehou dat haar man wel vir ’n tyd­perk buite die tronk was, maar dat sy nie kan onthou wanneer dit was nie.

Sy het ook getuig dat dit die ondersoekbeampte, sers Edville Dean, moet wees wat haar by die saak betrek.

Dean het vroeër getuig hoe die egpaar te werk gegaan het om van die versekeringsmaatskappye te eis.

Die eise het volgens hom grootliks gegaan oor skootrekenaars, kameras en selfone wat na bewe­ring gesteel is of weggeraak het en by die polisie aangemeld is om saaknommers te verkry.

Dean het ook vorige sake van Ricardo Bowkers ondersoek en sy stem herken as die persoon wat elke keer Santam geskakel het om ’n eis in te dien.

Ricardo Bowkers se regsverteenwoordiger, adv Pieter van Wyk, het die hof meegedeel dat hy nie sal getuig nie en van sy swygreg gebruik sal maak.

Wenzel Botha van die regshulpraad verskyn namens Desiree Bowkers.

Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en is vir voortsetting van die kruisondervraging uitgestel tot 24 November. (Deur Garnett Wicomb)