’N 32-JARIGE man van Oudtshoorn wat iemand met ’n mes gedreig en van ’n selfoon ter waarde van R1 800 beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof 12 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof meegedeel dat twee opgeskorte vonnisse vir roof oor die kop van Jason Britz hang en hy van beter moes geweet het as om weer te roof.
Hy het saam met sy slagoffer gestap en toe skielik met ’n mes beroof.
Laubscher het die hof versoek om Britz lank tronk toe te stuur omdat hy weer skuldig bevind is aan ’n ernstige misdaad wat ’n kanker in die gemeenskap geword het. Die beskuldigde is nie ’n eerste oortreder nie.
Volgens haar moet mense op straat gedurig oor hul skouers kyk vir moontlike aanvallers.
Britz se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het betoog dat die klaer nie ernstige beserings opgedoen het nie. Volgens hom was dit nie roof nie, maar net gewone diefstal omdat die beskuldigde eers later ’n mes uitgehaal het toe hy oor die foon gekonfronteer is. Hy het volgens Botha nie die foon met geweld van sy slagoffer afgeneem nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat Britz nou in roof “gegradueer het” en vir tronkstraf van 25 jaar kwalifiseer. Hy is al verskeie ander vonnisse opgelê, maar dit het hom nie verhoed om weer te roof nie. Sy het bevind daar is egter wel wesenlike en dwingende omstandighede om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis vir roof met verswarende omstandighede. Britz is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)