Hou tuiste só veilig as jy met vakansie gaan

MET die lang Desembervakansie wat vinnig nader kom, gaan baie mense binnekort hul huise toesluit en vir ’n wyle daarvan vergeet. Jou daaglikse tuiste word verruil vir son, sand en see of wilde diere, bosse en berge.

Wat word egter van jou huis terwyl jy vakansie hou? Hoe kan jy dit en die inhoud daarvan teen bose boewe, nagtelike sluipers en ander swerkaters beskerm?

Bernhard Barnard, eienaar van Oudtshoorn Locksmiths en ’n slotmaker sedert 1997, sê die belangrikste, is om seker te maak alles werk soos dit behoort te werk.

“Kyk na jou slotte en hekke. Toets dit as jy moet. Maak seker dit wat op knip moet gaan, gaan op knip en dat alles stewig sluit,” sê hy.

“Verkieslik moet jou hekke en slotte van goeie gehalte wees, en die slotmaker wat jy gebruik, moet ’n gekwalifiseerde en geregistreerde slotmaker wees.

“En gebruik die regte slotte waar nodig – dis net so belangrik. Veral as jou sleutels wegraak of daar by jou huis ingebreek word. Reageer vinnig en maak seker alles word vervang.

“Veiligheidshekke by die voor- en agterdeur en enige skuifdeure asook diefwering voor jou vensters skrik ook die skelms af,” sê Barnard.

Volgens hom is enige addisionele sekuriteitsmaat­reëls om jou huis te beveilig en mense af te skrik altyd ’n goeie gedagte.

’n Woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie het die volgende wenke gebied om die risiko van huisbraak tydens die vakansie te verminder:

• Sluit alle items toe wat rondom jou huis lê of wat buite gebêre word en moontlik gebruik kan word om mee in te breek.

• Vra ’n buurman of -vrou of iemand wat jy vertrou om jou pos te gaan haal terwyl jy weg is.

• Maak seker alle vensters is toe en op knip voordat jy weggaan.

• Diefwering en alarmstelsels is die grootste afskrikmiddels en verminder die risiko van ’n inbraak.

• Geen waardevolle items moet naby vensters gebêre word nie.

• Goeie vriendskappe en buurmanskap kan huisbrake verhinder – vra hulle om ’n ogie te hou.

• Laastens moet ’n mens seker maak geen bakstene, ysters of gereedskap lê buite rond nie – dit kan gebruik word om mee in te breek.

Visser het mense aangemoedig om die adresse van hul huise by die Polisie op te gee as hulle weggaan. Die Polisie besoek dan die huis om te kyk dat alles in orde is. Leë huise kan by die Gemeenskapsdienssentrums op Oudtshoorn en in Bridg­ton en Bongulethu opgegee word of by die volgende nommers: Oudtshoorn: 044 203 9014, Bridgton: 044 203 9162 en Bongulethu: 044 203 2100.

Pak dus jou tassie en vakansiebe-nodighede, diens jou voertuig, volg hierdie paar wenke, en jy kan taamlik gerus wees dat jou huis en al jou kosbare besittings veilig sal wees tot jy terugkom.

Stuur tog net foto’s of ’n poskaart soos in die ou dae of selfs ’n foto op WhatsApp vir dié van ons wat dié vakansie wel met Jan Tuisbly se karretjie gaan ry. (Deur Stefan Skapie Goosen)