‘Boys High stuur gedugte manne die wêreld in’

Van 1962 se Boys High-matrikulante wat die reunie meegemaak het, is van links Martin Prozesky, Nico Ungerer, Fanie Janse van Rensburg, Roode van Rensburg, Ilmar Latti, Bernard Herman, Ockie Olivier, Kobus Maree en Keith Nunes. Foto: Stefan Skapie Goosen

DAAR is baie min van ons wat 20, selfs 30 jaar ná skool steeds bande met van ons ou klasmaats het of bymekaar kom vir ’n kuier, maar om 60 jaar nadat jy gematrikuleer het steeds reunie te kan hou, is iets besonders!

Dit is presies wat die 1962-matrikulante van die ou Boys High op Oudtshoorn Vrydag (4 November) vermag het, waar nege van hierdie skool se laaste matriekklas gesellig by die Queen’s Hotel byeen gekom het, stories uitgeruil het en saam met van die skoner geslag van daardie jare kon lag oor die verlede.

Volgens een van die “old boys”, Oudtshoorniet Nico Ungerer, is die skool in 1881 gestig en in 1962 gesluit weens samesmelting met die Hoër Meisieskool.

“Soos jy weet het dit die huidige CP Nel Museum geword weens stadsvaders se ingryping en begeerte om ’n groot deel van Oudtshoorn se geskiedenis te bewaar.

“Ek glo egter nie dat dit veel betekenis het vir die huidige geslag nie, maar ons oudleerders heg groot waarde daaraan,” vertel hy.

Ungerer het gesê dat die seuns en meisies van ‘62 se Matrieks gereeld reünies gehou het in die verlede, maar tans is daar maar min van die klas van ‘62 oor, en daarom het hulle met die 60ste reünie besluit om die “gewillige meisies” van hul skooljare saam te nooi om die funksie te verfraai met hul ewige skoonheid, “soos jy self ervaar het met jou kort besoek!,” skerts hy met Die Hoorn se joernalis.

Met sommige klasmaats se gades ingesluit, was daar altesame 21 mense by die reünie.
1962 se hoofseun, rof Martin Prozesky, het leiding geneem soos dit ’n hoofseun betaam en die verwelkomings gedoen. Prof Keith Nunes, gebore Oudtshoorniet, het spesiaal van die VSA gevlieg om die geleentheid, moontlik die laaste reünie volgens Ungerer, by te woon.

“Ons het almal die gasvryheid van die Queen’s Hotel geniet, die hotel waar meeste van die manne hul eerste skelm brandewyn gedrink het en hul eerste biljartstokke opgeneem het, en natuurlik die veerpyltjies!” het Ungerer met heimwee gesê.

“Dit was ’n geskiedkundige geleentheid vir almal wat teenwoordig was, 60 jaar ná matriek en meeste nog blakend gesond en lewenslustig! Die dames se teenwoordigheid het ’n paar manne laat verlang na ons jeug,” het Ungerer met ’n glimlag bygevoeg.

Die twee skole het volgens Ungerer ’n reeks suksesvolle sport- en sakelui by Suid-Afrika se geskiedenis gevoeg. “Ook in die Polisie en Weermag van ons tyd was manne en vroue wat uiters suksesvol was. Oudleerders het ook in die Parlement as ministers gedien asook in ander administratiewe poste. Oorlede Michael Schultz, Isadore Barron, Louis en Arnold de Jager as burgemeesters en raadslede, ag, te veel om op te noem! De Villiers Lamprecht, die eerste atleet wat die myl onder 4 minute kon hardloop en baie ander sportsterre wat die hoogste sport bereik het, het almal begin by Boys High.

“Boys High het gedugte manne die wêreld ingestuur! Die rede? Uiters streng dissipline!” (Deur Stefan Skapie Goosen)