
Skrywers en besoekers wat die afgelope naweek aan die Prince Albert Leesfees deelgeneem het en vertonings bygewoon het, is dit eens dat vanjaar se fees een was om te onthou.
Die skrywer van Hart so groot soos ’n vuis en Ons skulde, PP Fourie, het gesê “Ek dink dit is die beste Lit. Fees wat ek al ooit bygewoon het. Ek is diep getref deur jul gasvryheid, deur die goeie program, die seepgladde reëlings, en deur al die gesprekke wat ek beleef het.”
Sidney Gilroy, skrywer van vier misdaadromans het gesê: “Vanjaar se fees was een vir die boeke!” en Jeanette Ferreira (Die melkweg en die miskruier) se reaksie was: “Die fees was ’n groot sukses. Dankie vir sekerlik maande se organisasie en entoesiasme. Die kans is uitstekend dat sulke kleiner feeste op groter suksesse uitloop.”
Die Prince Albert Leesfees het vanjaar talle hoogtepunte opgelewer, maar volgens die orga-niseerders is dit moeilik om ’n onderskeid te tref tussen die aanbiedinge.
“Elke liewe aanbieding het die gehoor op verskillende wyses getref. Riku Latti se spontane trekklavier spelery terwyl die klank nog opgestel word by Kritikomkoppie het net soveel passie en deernis weerspieël as Stefaans Coetzee en PP Fourie se verhale oor hulle lewens.
Trane het geloop by die opvoering van Petronel Baard en Hannes Visser en dit was ’n sigbare vergestalting van die emosies wat deur talle van die ander gesprekke ontlok is.”
Die feit dat vanjaar se Leesfees by The Showroom-teater aangebied is, was die spreekwoordelike kersie op die koek en die organiseerders het die bevestiging gegee dat indien dit finansieël moontlik is, sal die fees volgende jaar weer daar aangebied word.
The Showroom behoort aan die Prince Albert Community Trust en word ten volle deur jong mense uit die gemeenskap bestuur en beheer.
Bywoning van al die gesprekke was baie goed en die gehoor het na elke gesprek spontaan met vrae en opmerkings gereageer.
Aktuele gebeure soos die huidige Israel/Pa-listina-kwessie is in die geprek tussen die skrywer Andrew Brown en sy uitgewer Karina Brink (die weduwee van André P Brink) van Karavan Press uitgelig. In die gesprek van Anschen Conradie, met die musikant en digter, Riku Latti, het die kwessie van resensies en resensente onder andere ook onder die loep gekom.
Dat die Prince Albert Leesfees ’n baken in die leesfeeskultuur geword het, was die afgelope naweek duidelik met besoekers wat van so ver as Bloemfontein gereis het om die fees by te woon. (Deur Hannes Visser)