Eljada Nasorg vier vanjaar hul vyftigste bestaansjaar. Eljada bied versorging in ’n veilige omgewing aan 100 volwasse persone met intellektuele gestremdhede.
Die dagsorgsentrum bied ook programme aan vir volwassenes wat nie permanent in die sentrum bly nie. Dienste word deur 35 werknemers gelewer en word slegs gedeeltelik deur die departement van maatskaplike dienste gesubsidieer. Bydraes van Badisa en skenkings help om die begroting te laat klop.
Eljada is deel van Badisa wat fokus op sosiale ontwikkeling. Badisa se ontstaan was meer as 100 jaar gelede as die diakonale of deernisdienste van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) (Kaapstreek) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) (Wes-Kaap). In 2003 is hierdie dienste saamgevoeg in Badisa, as ’n nuwe onafhanklike organisasie onder toesig van die gesamentlike bediening van die twee kerke. Badisa het hul 21ste bestaansjaar op 4 September gevier.
Eljada Nasorg se ontstaan kan teruggevoer word na 1969 toe die Christelike Maatskaplike Raad(CMR) van George ’n behoeftebepaling in die destydse Suid-Kaaplandse gebied gedoen het.
’n Groot aantal kinders en volwassenes met verstandelike gestremdhede is aangeteken. ’n Verdere ondersoek deur die CMR in Oudtshoorn word in 1973 van stapel gestuur met die gedagte om ’n dagsorgdiens vir gestremdes en vrywillige helpers te skep.
Op 10 April 1973 kry Eljada gestalte met die eerste 10 gestremde persone wat die dagsorg in die NG Kerk Oudtshoorn-Suid se saal bywoon.
Die destydse CMR voorsitter, Ds D. Tolmie, was die dryfveer agter die stigting van Eljada Sentrum as ’n tweede kerklike inrigting naas die Alta du Toit-sentrum, vir die versorging en opleiding van persone met verstandelike gestremdhede.
Alhoewel Eljada reeds in 1974 gestalte gekry het, het die sentrum eers in 1980 volledig begin funksioneer nadat ’n eie gebouekompleks betrek kon word. Die amptelike inwyding van die gebou het op 21 Augustus 1981 plaasgevind.
Indien u betrokke wil raak kontak hul gerus by 044 279 1740. (Deur Heinrich Bosman)