Campher wéér raadslid

ydens die raadsvergadering op 3 September is, van links: Johan Allers (Burgemeester), Suzane Jansen (Speaker), Leon Campher, Clyde Avontuur (Senior bestuurder, regsdienste) en Zoe Tyatya (Onderburgemeester). Foto verskaf

LEON Campher, wat ’n aantal maande gelede uit die Oudtshoorn-raad bedank het, is Dinsdag 3 September, weer as raads-lid ingesweer.

Met sy bedanking destyds het sy party, Advieskantoor, vir Deandro Booysen, Campher se seun, vir die pos benoem.

Aangesien die pos ’n proporsionele- en nie ’n verkose raadspos is nie, kan die party ’n kandidaat onttrek en met ’n ander een vervang.

Na die raadsvergadering verlede maand toe ‘n nuwe burgemeester, speaker en onderburgemeester verkies is, is die burgemeesterskomitee ook verander. Booysen was die portefeuljevoorsitter van strategiese dienste.

Dit beteken waarskynlik dat Campher nou as burgemeesters-komiteelid sal dien. Die Hoorn het ’n navraag aan Campher gestuur ten opsigte van sy redes om weer op die raad te dien. Teen druktyd is ’n reaksie nog nie ontvang nie.

Twee ander items op die agenda was in komitee hanteer. Komitee-items word deur die raad hanteer, maar omdat dit dikwels vertroulike inligting oor persone bevat, is dit nie oop vir die publiek en amptenare nie. Die uitkoms van die item word na konsensus weer by ’n openbare vergadering voor die raad vir goedkeuring gelê.