Deur Liesel le Roux
’N VERFRAAIINGSPROJEK waarin die Oudtshoorn Munisipaliteit en inwoners van die dorp wil hande vat, het gisteraand sy eerste treë geneem toe ’n inligtingsvergadering op die dorp plaasgevind het.
Die inligtingsvergadering het na Die Hoorn se spertyd plaasgevind, te laat om in die berig daaroor verslag te doen.
Die projek het ontstaan nadat verskeie inwoners navrae aan die munisipaliteit gerig het oor die agteruitgang van die voorkom van die dorp se ingange, terwyl vrywilligers ook hul dienste aangebied het om die dorp te help verfraai, spesifiek op ’n watervriendelike manier.
’n Brief van Alet Coetzee, ’n inwoner van Oudtshoorn, wat twee weke gelede in Die Hoorn gepubliseer is, het ook dié kwessies aangeraak en spesifiek na die toestand van die dorp se ingange verwys met die KKNK net om die draai.
’n Groepie vroue van die dorp het inderdaad intussen ook met die munisipaliteit in gesprek getree en reeds ingespring om die dorpsingang vanaf Calitzdorp te verfraai.
Ronelle Louw, een van dié vroue, sê hulle is baie vriendelik deur die munisipaliteit ontvang en het ’n baie positiewe gesprek met die direkteur van gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, en ander amptenare gehad.
Louw sê sy glo in positiwiteit en om ’n positiewe bydrae te maak en dat sy – soos van die ander vroue – graag ’n helpende hand wil bied.
Gisteraand se vergadering waar inwoners genooi is om voorstelle te maak, was ’n uitvloeisel van dié gesprek.
Matthee het gister aan Die Hoorn gesê dit is ’n feit dat die ingange en sekere middelmanne op hoofroetes in die dorp nie goed lyk nie en die dorp in ’n negatiewe lig stel.
“Ons dorp se tuine het aandag nodig en ons het besef ons gebruik nie die kundigheid en welwillendheid wat in Oudtshoorn bestaan nie.
“Na vele klagtes en versoeke om te kan help is besluit om inwoners te nader met die oog op moontlike vennootskappe en nouer samewerking tot voordeel van Oudtshoorn.”
Volgens Matthee was die doelwitte van gisteraand se vergadering die volgende:
• Om die toestand van ingange en tuine te bespreek;
• Dienslewering of die gebrek daaraan te bespreek;
• Idees te deel en ondersoek in te stel (deur die munisipaliteit se tegniese span bestaande uit amptenare asook deur kundiges uit die gemeenskap) na wat gedoen kan word om volhoubare verandering teweeg te bring;
• Sodanige kundiges ’n week of twee te gee om met planne en voorstelle na vore te kom met beraamde koste;
• Planne of voorstelle met belangstellendes te deel en te besluit oor die pad vorentoe;
• Om die moontlike stigting van ’n verfraaiingskomitee wat die raad en amptenare kan adviseer, te ondersoek.
Matthee sê hy besef dit is noodsaaklik om gebreke en probleme kaalkop aan te spreek.
“Maar meer belangrik is om ’n nuwe vennootskap met ons gemeenskappe te sluit om die Groter Oudtshoorn aantreklik en sindelik te hou.”