Noël Pietersen. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
“EK het geen geld van die Oudtshoorn Munisipaliteit in my sak gesteek, gesteel of bedrog gepleeg nie en ook nie die munisipaliteit se geld verkwis nie. Dit is waarom drie klagtes in my guns bevind is.”
So sê ’n oud-munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, Noël Pietersen na ’n beslissing van die Kaapse Hooggeregshof op 7 Februarie. Die Hooggeregshof het ’n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf wat Pietersen in Desember 2017 opgelê is, met ’n vonnis van twee jaar vervang.
Pietersen het hom tot die Hooggeregshof gewend nadat hy in 2016 deur streeklanddros Marilyn Cannon skuldig bevind is aan vyf aanklagte van die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet. Hy is in 2017 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Die Hooggeregshof het die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes waaraan Petersen skuldig bevind is, tersyde gestel en die twee orige saamgeneem vir vonnis.
Cannon het bevind dat Petersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy ’n konsultasiefirma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en Ian Kenned, eienaar van IBR, Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se IBR uitbetaal.
Pietersen is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit na te kom, deur nie die nodige stappe te neem om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie asook om die nodige stappe te neem dat die munisipale voorsieningskettingbeleid geïplimenteer en op ’n regverdige, deursigtige, kompeterende en koste-effektiewe wyse toegepas word.
• Pietersen en sy regsverteenwoordiger, adv Jerome van der Schyff, is van mening dat die regters ’n fout begaan het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie, en dat daar geen getuienis voor die hof was wat dit weerspreek het nie.
Die landdros het volgens hulle foutiewelik afleidings gemaak wat nie deur die staat bewys kon word nie en daarom het die Hooggeregshof sy getuienis wat deur die landdros verwerp is, erken en aanvaar.
Volgens Pietersen het die regters bevind dat hy nie grof nalatig was nie en in beste belang van die gemeenskap en met suiwer bedoelings opgetree het om die Oudtshoorn Munisipaliteit reg te ruk.
“Die Oudtshoorn Munisipaliteit was tien jaar terug amper op die grond en ek het tot die redding gekom.
Ek het die bepalings van die munisipale finansiële bestuurswet (MFMA) streng nagekom en wil weet waarom ek skuldig bevind is.
“Die stryd om geregtigheid gaan voort en ons gaan nou na die Appélhof in Bloemfontein,” sê Pietersen.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die mense van Oudtshoorn, Suid- en Oos-Kaap wat hom ondersteun.
• Pietersen was tussen 2007 en 2011 munisipale bestuurder op Oudtshoorn. Hy is in 2009 na ’n tugproses deur die raad afgedank, maar in 2010 weer aangestel toe die ANC beheer oor die raad oorgeneem het.