Munisipaliteit begin openbare deelnameproses oor berugte straatkruising

Bestuurders van voertuie wat van­uit Van der Rietstraat in Baron van Reedestraat wil indraai, moet as gevolg van sigprobleme oor die stopteken beweeg voordat hulle kan sien of daar verkeer aankom, soos die foto wys. Foto: Liesel le Roux

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit gaan ’n openbare deelnameproses van stapel stuur om ’n oplossing te vind vir sig- en verkeersvloeipro­bleme op die hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat op Oudtshoorn.

Dit volg op ’n volledige verkeersimpak-analise van dié kruising deur ’n ingenieursfirma in opdrag van die munisipaliteit as gevolg van die verskeie botsings wat oor die jare daar plaasgevind het.
Die ingenieursverslag is op 22 Julie deur die munisipaliteit ontvang.

Die verslag het bevind verkeersveiligheidspro­bleme op dié kruising word veroorsaak deur sigprobleme op die padskouer deurdat sig belemmer word deur geboue, plante en ’n “potplantstruktuur”.

Die verslag het egter ook bevind dat verkeers­ligte, ’n mini-sirkel of ’n verkeersirkel nie by die kruising oorweeg kan word nie.

Verkeersligte is nie ’n opsie nie omdat die kruising nie aan die nasionale standaarde voldoen vir verkeersligte nie met voertuig- en verkeertellings wat nie hoog genoeg is daarvoor nie.

’n Minisirkel is ook nie ’n opsie nie omdat dit ook nie aan die nasionale standaarde vir mini­sirkels voldoen nie en ook nie op klas 3-paaie soos Baron van Reedestraat (paaie wat verkeer tussen die belangrikste residensiële, nywerheids- en sakedistrikte dra) gebruik mag word nie.

’n Gewone verkeersirkel kan nie oorweeg word nie omdat daar te min spasiebeskikbaar is daarvoor.
Justin Lesch, direkteur infrastruktuur by die munisipaliteit, sê al die analises wat deur die ingenieursfirma gedoen is, dui daarop dat sigafstand die grootste probleem is.

“Dt word onder meer veroorsaak deur bome en party geboue. Omdat geboue nie sommer net ge­sloop kan word nie, het die ingenieurspan aan ander moontlikhede aandag geskenk soos die ver­nouing van die pad. Dit was egter nie aanvaarbaar vir die provinsie aan wie die pad behoort nie.”

Lesch sê die provinsie het aangedui dat hulle nie ander opsies by die kruising sal oorweeg alvorens die kwessie van sigafstand aangespreek is nie. Dit sluit die verwydering van bome in.

Die verslag beveel ook aan dat die munisipaliteit die volgende stappe (wat ooreenkom met aanbevelings deur die Wes-Kaapse Regering) doen en dit moniteer:

• Waar moontlik moet obstruksies wat skouersig­afstand belemmer, verwyder word.

• Die verkeersdepartement moet botsingsinlig­ting omvattend, veral die oorsaak en presiese ligging daarvan, aanteken; asook relevante wet­gewing ten opsigte van snelheid toepas en detail daarvan aanteken. (Deur Liesel le Roux)